China gee uitvoer van ystererts gas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Suid-Afrika vind groot baat daarby as die Chinese eiendoms- en konstruksiesektore beter vaar, want dié sektore is van die grootste drywers van die vraag na ystererts, een van ons land se belangrikste uitvoerprodukte.

Mynboubedrywighede van Richards Bay Minerals. Volgens Statistieke Suid-Afrika was mynbouproduksie in 2022 7% laer as die vorige jaar. Foto: Siyanda Mayeza
Mynboubedrywighede van Richards Bay Minerals. Volgens Statistieke Suid-Afrika was mynbouproduksie in 2022 7% laer as die vorige jaar. Foto: Siyanda Mayeza

Seleho Tsatsi, 'n beleggingsontleder by Anchor Capital, sê hoewel Chinese eiendomsaandele in Januarie en Februarie laer was teenoor 'n reeds swak 2022, word verwag die heropening van die Chinese ekonomie en hoër ekonomiese bedrywighede sal mettertyd deursyfer na die land se eiendomsektor. Beijing het laat verlede jaar sy zero-Covid-beleid laat vaar en ekonomiese aktiwiteit het onmiddellik kop opgetel.

Tsatsi sê die prys van ystererts was die afgelope week naby $121 per ton, teenoor sowat $88 per ton laat in 2022. Anchor verwag ystererts sal vanjaar tussen $90 en $110 per ton verhandel, maar nie weer 2021 se pryse van tot $219 per ton haal nie. As die ystererts-pryse bly waar dit is, kan dié mynmaatskappye goed vaar. Volgens die Observatory of Economic Complexity was Suid-Afrika in 2020 die wêreld se vyfde grootste uitvoerder van ystererts. Die belangrikste bestemmings is China en Suid-Korea.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, skryf in 'n nota die pryse van Suid-Afrika se belangrikste uitvoer-kommoditeite het in die eerste kwartaal opgeskiet ná die taamlik ellendige vierde kwartaal van 2022.

Die prys van Suid-Afrika se belangrikste uitvoerprodukte, naamlik metale en minerale, was in die eerste kwartaal 16,5% hoër op 'n kwartaalgrondslag, sê Bishop. Dit lyk volgens haar dus ook of geldeenhede waarvan die waarde saamloop met die beweging in kommoditeitspryse - soos in Suid-Afrika - in die tweede helfte van vanjaar kan versterk.

Tsatsi sê termiese steenkool, nog 'n belangrike uitvoerproduk vir Suid-Afrika, het ook 'n rekord-2022 beleef tot voordeel van mynmaatskappye soos Thungela en Glencore. Pryse het egter van sowat $360 per ton in September verlede jaar skerp gedaal tot die afgelope week se $130 per ton. 2022 se hoë prys was veral toe te skryf daaraan dat Europa na ander energiebronne as gas uit Rusland begin kyk het uit vrees vir 'n baie koue winter. Volgens Tsatsi het Europa die krisis beter hanteer as verwag en die winter was nie so koud soos verwag nie. Die laer pryse van steenkool en ruolie toon soortgelyke vrese vir die komende winter is in 'n groot mate besweer.

Daar is kommer oor Suid-Afrika se dalende mynbouproduksie.

Hy sê hoewel sekere kommoditeitspryse herstel, verwag Anchor in die algemeen nie Suid-Afrikaanse myne - veral platinum-mynmaatskappye en steenkoolmaatskappye - se uitvoerverdienste sal so stewig wees soos die vorige twee jaar nie. In die platinum-groep metale (PGM's, waaronder platinum, palladium en rodium) het die prys van palladium en rodium die laaste ruk onder druk gekom. Dié twee saam maak 'n groot deel uit van die inkomste vir platinummaatskappye, sê Tsatsi. Dit volg nadat 2021 die beste jaar tot dusver was vir PGM's en dus vir die winsgewendheid van mynmaatskappye in die metale, maar Tsatsi sê PGM-pryse daal weens kommer oor vraag. Dit lyk of die internasionale voertuigvervaardigingsektor, wat die vraag na PGM's dryf, se vraag daarna taan. Beleggers is besorg oor 'n moontlike verlangsaming in ekonomiese aktiwiteit en PGM's is sensitief vir wat in ekonomieë gebeur, sê Tsatsi.

Daar is egter kommer oor Suid-Afrika se dalende mynbouproduksie.

Volgens Statistieke Suid-Afrika was mynbouproduksie in 2022 7% laer as die vorige jaar. Die volume mynbouproduksie het die afgelope 12 maande gedaal. In Desember was die produksie van ystererts 15,2% laer op 'n jaargrondslag en PMG's sowat 5% laer. Volgens Bishop kan Suid-Afrika weer die voordeel van hoër kommoditeitspryse misloop omdat Transnet se ondoeltreffendheid met spoor- en hawe-infrastruktuur hoër mynbouproduksie vir uitvoer terughou. Tsatsi sê dít is nadelig vir maatskappye se verdienste en ook belastinginkomste.

In die boekjaar tot einde Maart 2022 het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sowat 25% meer belasting ingevorder as die vorige jaar, grootliks danksy hoë kommoditeitspryse wat mynmaatskappye se inkomste én dus belasting verhoog het. Bishop skryf die rand het nie gestyg in ooreenstemming met hoër kommoditeitspryse in die eerste kwartaal nie, ondanks die prys van minerale en metale wat skerp gestyg het.

In ontluikende markte soos Suid-Afrika, wat sterk op kommoditeitsuitvoer steun, beweeg die wisselkoers meestal saam met kommoditeitspryse. Ontluikende geldeenhede byt egter nou die spit af van beleggers wat wegskram van risiko in wêreldwye finansiële markte.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

CTA