Exxaro ly omdat Eskom gedurende beurtkrag minder steenkool gebruik het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Skopgraaf by die Mafube-steenkoolmyn naby Eskom se Arnot-kragstasie in Mpumalanga, wat Exxaro as ’n gesamentlike onderneming met Thungela Resources bedryf.  Foto: Exxaro
’n Skopgraaf by die Mafube-steenkoolmyn naby Eskom se Arnot-kragstasie in Mpumalanga, wat Exxaro as ’n gesamentlike onderneming met Thungela Resources bedryf. Foto: Exxaro

Die steenkoolmyngroep Exxaro het 'n dividend van R7,96 per aandeel aan sy aandeelhouers verklaar vir die halfjaar tot einde Junie.

Dit was ondanks 'n moeilike halfjaar met swakker vraag van Eskom, en die tussentydse dividend is wel 30% minder as 'n jaar gelede se halfjaardividend van R11,43 per aandeel.

Die wisselvallige steenkoolmarkte moes Exxaro laat bontstaan om aan te pas.

Eskom se voortgesette laer vraag na steenkool en Transnet se logistieke probleme het meegebring dat Exxaro minder steenkool geproduseer het.

Sy produksievolumes het in die eerste helfte van die jaar met 12,7% tot 19,3 miljoen ton gedaal, vergeleke met die ses maande tot einde Desember verlede jaar.

Die totale verkoopsvolumes van steenkool was 11,7% laer en is negatief geraak deur minder vraag van Eskom by sy Medupi- en Matimba-kragstasie weens opwekkingseenhede wat uit diens was en toerusting wat onklaar geraak het. Die prestasie het teen die einde van die verslagdoeningstydperk wel verbeter.

Dit was egter 'n geleentheid wat Exxaro benut het om meer steenkool uit te voer, en sy uitvoervolumes is met 600 000 ton tot 3,2 miljoen ton verhoog, met 95% van die pryse wat hy behaal het wat binne sy teikenprys was.

Maar logistieke koste het toegeneem, plaaslike steenkoolverbruik was minder en uitvoerpryse was laer as in die vorige tydperk.

Dit het meegebring dat Exxaro se groepomset 4% laer was op R19 miljard vergeleke met die halfjaar tot Desember. Dit was wel 1% beter as die ooreenstemmende halfjaar tot Junie 2023.

Sy verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywings was 10,5% laer op R5,1 miljard, en die netto bedryfswins het met 14% tot R3,7 miljard gekrimp vergeleke met die halfjaar tot Desember. Vergeleke met 'n jaar gelede was die bedryfswins 41% laer.

Dr. Nombasa Tsengwa, uitvoerende hoof van Exxaro, meen wel die halfjaarsyfers wys die groep se sakeprestasie bly veerkragtig ondanks die wisselvallige plaaslike en internasionale markte.

Die bydraes van Exxaro se niebestuurde bedrywighede was laer as in die vorige halfjaar. Dit verwys na sy belange in ander beleggings waarin hy nie aktief betrokke is nie, soos sy belang in Kumba Iron Ore se Sishen-ysterertsmaatskappy waarvan die inkomste met R1,6 miljard gedaal het.

Maar ondanks die moeiliker handelstoestande kon Exxaro kontant van R4,8 miljard genereer, en was die netto kontantposisie teen 30 Junie op R9,8 miljard, wat volgens Tsengwa 'n stewige fondasie vir sy groeistrategie lê.

Dit het gelei tot 'n wesensverdienste per aandeel van R15,28, wat 31,7% laer was as die vorige tydperk.

By Exxaro se Waterberg-myn in Limpopo was die verdienste R100 miljoen of 2% laer weens omset wat R455 miljoen laer was. Die laer uitvoer- en plaaslike pryse is wel deels teengewerk deur beter pryse wat mettertyd op verkope aan Eskom behaal is.

By sy myne in Mpumalanga was die verdienste skerp af. Die Belfast- en Leeuwpan-myn het meer uitvoervolumes geproduseer.

Exxaro het ook 'n groenkrag-afdeling, met twee windplase in bedryf in die Oos-Kaap en 'n sonkragprojek by die Grootegeluk-myn in die Waterberg.

SPELETJIES VANDAG

CTA