Die goudmyngroep Gold Fields se wins vir die halfjaar tot einde Junie het gekrimp.
Die myngroep het wins van $458 miljoen behaal teenoor 'n jaar gelede se $510 miljoen.
Sy goudproduksie vir die halfjaar was 4% laer as 'n jaar gelede op 1,154 miljoen ons. Hy skryf dit toe aan beplande laer produksie by die Damang-myn in Ghana.
Gold Fields het wel 'n tussentydse dividend van R3,25 per aandeel verklaar, wat meer is as 'n jaar gelede se halfjaardividend van R3 per aandeel.
Gold Fields het nege myne in Australië, Suid-Afrika, Ghana en Peru, en nog twee projekte in Kanada en Chili.
Sy totale produksiekoste per ons was in die tydperk 3% hoër op $1 398, weens minder goud wat verkoop is en hoër koste.
Die gemiddelde goudprys wat hy behaal het, was $1 927 per ons, teenoor $1 851 'n jaar gelede.
Sy kontant wat gegenereer is, was $140 miljoen, teenoor die vorige jaar se $293 miljoen.
Gold Fields verwag steeds dat sy goudproduksie vir die volle boekjaar tussen 2,25 miljoen en 2,3 miljoen ons gaan wees.
Hoë mynbou-inflasie bly 'n uitdaging. Die inflasie in Ghana in dollarterme is die hoogste op 8,5%, met Peru se inflasie die laagste op 1,5%. In Suid-Afrika is die maatskappy se mynbou-inflasie 7,8%.
By die South Deep-myn in Suid-Afrika was daar onstabiele grondtoestande en vaardigheidstekorte wat produksie in die afgelope halfjaar geraak het.
Personeel
Paul Schmidt, finansiële hoof van Gold Fields, het gesê hy wil vroeg aftree, het die groep Donderdag aangekondig.
Die groep sal nou met 'n omvattende werwingsveldtog begin om 'n plaasvervanger vir hom te vind.
Schmidt het in 1996 by Gold Fields begin werk en is sedert 2008 die finansiële hoof.
Martin Preece, waarnemende uitvoerende hoof, sê die maatskappy soek ook nog na 'n gepaste aanstelling vir die pos van permanente uitvoerende hoof. 'n Eerste ronde van onderhoude met 'n kortlys van kandidate is al gehou, en finale onderhoude word vir September beplan.
• Die goudmyngroep DRDGold het Donderdag laat weet sy verdienste per aandeel vir die boekjaar tot einde Junie kan tussen 9% en 19% beter wees as 'n jaar gelede. Dit is danksy omset wat met 7% tot R5,496 miljard gegroei het. DRDGold se Ergo Mining het baat gevind by 'n styging van 16% in die randprys van goud, en die opbrengs van goud in gram per ton uit die py het verbeter. Goudverkope was wel 5% laer uit Ergo Mining.
DRDGold sê sy bedryfskoste in kontant was 6% hoër.
Hy verwag om sy jaarresultate volgende Woensdag uit te reik.





















