Die mynbou-gans wat twee jaar lank goue eiers gelê het se gô is uit en die staatskas gaan daaronder ly.
Ontleders meen die nasionale tesourie moet hom daarvoor staal dat die stewige belastinginkomste van mynhuise van die afgelope twee jaar aansienlik minder gaan wees.

In 2021 en 2022 het Suid-Afrika se mynboumaatskappye "superwinste" behaal danksy rekordhoë kommoditeitspryse, sê Nico Jansen, vennoot by Mazars. Die soort pryse wat behaal is, was nie volhoubaar nie en dit het teruggekeer na 'n meer normale vlak, sê Jansen.
Kommoditeitspryse het reeds die afgelope jaar begin terugsak en sal volgens die Wêreldbank vanjaar gemiddeld 8% laer wees as in 2022.
Die finansiële uitslae van die Suid-Afrikaanse mynhuise Anglo Platinum en Kumba wat die afgelope week bekend gemaak is, toon reeds dat maatskappybelastings gaan inkrimp. Anglo Platinum se voorbelaste verdienste het in die ses maande tot einde Junie 2023 met 75,5% geval en Kumba Iron Ore s'n met 22%.
"Ons verwag dat belasting en tantième van myne vanjaar 40% tot 50% laer sal wees," sê Jansen. Sy ramings strook met 'n onlangse verslag van RMB Morgan Stanley waarin voorspel word Suid-Afrikaanse mynhuise se bydrae tot die fiskus kan vanjaar net sowat R50 miljard wees. Dis meer as die helfte minder as die R110 miljard van 2021, berig miningmx.com. In 2022 was maatskappybelasting van mynhuise R73,6 miljard en tantième R14,2 miljard.
Die afgelope twee jaar se hoë kommoditeitspryse en gevolglike hoër belastinginkomste vir die staatskas het gehelp om Suid-Afrika se begrotingstekorte te verklein en gelei tot 'n positiewe handelsbalans - faktore wat positief was vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat verrinneweer is gedurende die Covid-19-pandemie. In 2021 het mynbou R481 miljard en in 2022 nagenoeg R500 miljard bygedra tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).
Alle aanduidings is dat Suid-Afrika se belastinginkomste vanjaar oor die algemeen minder sal wees as verlede jaar. " 'n Mens kan maar net hoop die tesourie het in ag geneem dat belasting van mynhuise laer gaan wees," sê Jansen. Ekonome en ontleders het einde 2021 al gewaarsku kommoditeitspryse sal daal en dat die winste wat mynboumaatskappye toe behaal het, nie volhoubaar was nie. Enoch Godongwana, minister van finansies, het in sy begrotingstoesprake na hoë kommoditeitspryse verwys as 'n "gawe".
Die laaste paar maande se laer kommoditeitspryse is aangedryf deur vrese vir 'n wêreldresessie, asook hoë inflasie- en rentekoerse wat die vraag na metale aansienlik gedemp het. Natascha Viljoen, uitgaande uitvoerende hoof van Anglo Platinum, het die afgelope week gesê die vraag na die platinumgroepmetale (waaronder platinum, rodium en palladium) het aansienlik gedaal die laaste tyd. Dié metale word onder meer in katalitiese omsetters vir binnebrandenjins gebruik, maar die internasionale vraag na elektriese voertuie veroorsaak dat dit nou minder gewild is. Die mandjieprys van platinumgroepmetale het in die ses maande met 29,4% gedaal en platinumproduksie by Anglo Platinum het in dieselfde tydperk met 13,2% gedaal - deels vanweë beurtkrag, sê Viljoen.
Ystererts se prys het ook in die afgelope ses maande skerp gedaal nadat die ekonomiese herstel in China ná die pandemie heelwat stadiger is as wat verwag is. Dit veroorsaak dat die vraag na ystererts laer is omdat produksie in China - die wêreld se grootste staalprodusent - onder normale vlakke is.
Suid-Afrikaanse mynhuise het ook tuisgemaakte probleme, soos onbetroubare elektrisiteitsopwekking en Transnet se onvermoë om metale na hawens te vervoer vir die uitvoermark. In 2021 was Suid-Afrika se uitvoervolumes van metale gelykstaande aan dié van 2017. Dié laer volumes het daartoe gelei dat die bedryf 'n potensiële inkomste van R35 miljard verbeur het. Die verlies aan potensiële inkomste was op R51 miljard in 2022 selfs nóg meer.
Kumba het die afgelope week gesê probleme op die ystererts-spoorlyn, van Sishen in die Noord-Kaap tot by die Saldanhahawe, veroorsaak dat hy ystererts by myne moet opgaar pleks daarvan om dit uit te voer. Die ysterertsmyn se spoorlyn gaan soos ander spoorlyne ook gebuk onder kabeldiefstal wat maak dat treine lang tydperke staan.
Die jongste produksiesyfers van Statistieke SA toon dat mynhuise in Mei vanjaar 0,8% minder geproduseer het teenoor dieselfde tydperk in 2022. Dis heelwat laer as wat ekonome voorspel het.
Die mynbousektor was die afgelope twee jaar 'n kritieke bron van inkomste vir die staatskas en het 'n wesenlike rol gespeel om die ekonomie staande te hou ná die ontwrigtings van Covid-19 in 2020 en 2021 toe talle sektore tot stilstand geknars het weens inperkings. Die kleiner belastinginkomste sal groter druk plaas op die regering om hervormings deur te voer.
BBP-groei was in die eerste kwartaal vanjaar 'n geringe 0,4% nadat dit met 1,1% ingekrimp het in die vierde kwartaal van 2022.
David Ansara, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, het onlangs gewaarsku dat die swakker saketoestande in die land reeds waar te neem is op maatskappye se balansstate. Hoewel dit belowend is dat die land se groot maatskappye betrokke is by regeringsprojekte, onder meer pres. Cyril Ramaphosa se nasionale logistieke krisiskomitee, moet die sakesektor begin rug styf maak en sy eie eise stel aan die regering, sê Ansara. "Die sogenaamde versekerings wat die regering gee, is dikwels betekenisloos. Die sakesektor moet eis dat daar onmiddellike en tasbare hervormings kom - nie abstrakte, hoopvolle goed soos ‘einde van beurtkrag' of ‘einde aan korrupsie' nie."














