Die ysterertsgroep Kumba se lot is die afgelope boekjaar erg geraak deur Transnet se probleme.
Dit is so erg dat Kumba met 'n herstrukturering moes begin, en sowat 490 poste kan besnoei word om koste te bespaar, het Mpumi Zikalala, uitvoerende hoof, Dinsdag aangekondig.
Daar is ook 160 kontrakteurs of diensverskaffers wat geraak kan word omdat Kumba sy kontrakte met hulle hersien. Dit is nog nie duidelik hoeveel werknemers van daardie 160 kontrakteurs geraak kan word as die kontrakte opgeskort of aangepas word nie.
Dit volg kort nadat sy sustermaatskappy in die Anglo-stal, Amplats, Maandag ook 'n drastiese herstrukturering aangekondig het wat tot 3 700 werkers kan raak asook meer as 600 kontrakteurs.
Waar Amplats geraak is deur kommoditeitspryse, is Kumba se kopseer meer die logistieke krisis van Transnet.
Kabeldiefstal en ander probleme wat begin kop uitsteek het op die belangrike spoorlyn tussen Sishen en Saldanha het veroorsaak dat Kumba se produksie met meer as 5% gedaal het, het Zikalala gesê met die bekendmaking van die groep se jaarresultate.
Kumba se produksie het met 5,3% tot 35,7 miljoen ton gedaal.

Verkope het wel met 1,6% tot 37,2 miljoen ton gegroei, want dit word vergelyk met 2022 se syfers toe 'n staking by Transnet die spoor- en hawebedrywighede ook ontwrig het.
Kumba se aandeelhouers sal egter dankbaar wees vir die slotdividend van R24,20 per aandeel wat verklaar is. Dit bring die totale dividend vir die jaar op R46,80 per aandeel te staan, wat 4% meer is as in die vorige jaar.
Zikalala waarsku die logistieke uitdagings sal tyd verg om op te los.
Die besluit om te herstruktureer is nie ligtelik geneem nie, het Zikalala gesê. Dit is egter nodig om internasionaal mededingend te bly.
Tesame met herstrukturering van poste wat in September verlede jaar begin is, vorm die 490 poste wat nou geraak word, soveel as 10% van Kumba se totale arbeidsmag, het Zikalala gesê.
Ná 'n strategiese hersiening wat verlede jaar gedoen is, het Kumba besluit om sy produksie in die breë tot tussen 35 miljoen en 37 miljoen ton per jaar te verlaag van nou tot 2026. Dit is om in die pas te kom met die bestaande logistieke kapasiteit wat Transnet kan lewer.
Die vorige mikpunt was om meer as 40 miljoen ton per jaar te lewer.
Volgens Zikalala gee dit Kumba kans om die opgehoopte voorraad weg te werk wat by myne bestaan, en dit sal ook bydra tot kostebesnoeiings om seker te maak die onderneming bly mededingend op lang termyn.
Besparings van tussen R2,5 miljard en R3 miljard is vir die lopende boekjaar geteiken. Die besparing uit die besnoeiing van die moontlik 490 poste en 160 kontrakteurs word hierby ingesluit.
Sy sê Kumba steun die planne van die nasionale logistiekkrisiskomitee en is bemoedig deur die kabinet se goedkeuring van die vraglogistieke padkaart wat voorsiening maak vir groter private deelname aan die logistieke sektor.
Kumba werk saam met ander mynmaatskappye om gereeld met Transnet te skakel om hom te help om die vervoerkrisis op te los, het Zikalala gesê.
Groter kostedruk en laer produksievolumes het die Sishen-myn se eenheidskoste tot R589 per ton verhoog. By die Kolomela-myn het doeltreffendheid en streng kostedissipline gehelp om die eenheidskoste tot R482 per ton te verlaag.
In dollarterme is Kumba bevoordeel deur die 13%-verswakking in die gemiddelde randdollarwisselkoers tot R18,45. Daar was ook R1 miljard se besparings wat verlede jaar behaal kon word.
Die groep is ook bevoordeel deur die terugwip van ysterertspryse laat verlede jaar, met die gemiddelde gerealiseerde verkoopprys van $117 per ton wat behaal is. Dit is 3,5% beter as 2022 se pryse.
In syfers
• Omset styg met 16,5% tot R86,2 miljard;
• Verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing groei met 23% tot R45,7 miljard;
• Netto wins groei met 51% tot R29,8 miljard; en
• Kontant uit bedrywighede groei tot R38,3 miljard teenoor R34,8 miljard in 2022.




















