Mynbou: SA sak verder terug

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie. Onder Mantashe se leierskap het Suid-Afrika se mynboubedryf verswak tot die sesde onaantreklikste bestemming vir beleggings ter wêreld. Foto: WIRES
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie. Onder Mantashe se leierskap het Suid-Afrika se mynboubedryf verswak tot die sesde onaantreklikste bestemming vir beleggings ter wêreld. Foto: WIRES

Al het Suid-Afrika van die rykste mineraal-neerslae is die land nou een van die ses "onaantreklikste" lande wat mynboubeleggings betref, toon die Fraser-instituut se nuutste ontleding van belegging-"aantreklikheid".

Die instituut, 'n Kanadese dinkskrum, publiseer jaarliks 'n ranglys van die aanloklikste bestemmings vir die ontginning en eksplorasie van minerale. Faktore wat oorweeg word wat beleggers lok of afskrik, sluit in die gehalte van infrastruktuur, mynbouwette en regulasies, politieke stabiliteit, belasting­­beleid, onafgehandelde grondeise, arbeidsonrus en die geredelike beskikbaarheid van 'n land se geologiese databasis. Die instituut kyk ook na die internasionale mynboubedryf se siening van 'n land se beleggingspotensiaal en regeringsbeleid.

Die gewildste gebiede is Nevada in die VSA, Wes-Australië en Saskatchewan in Kanada.

Suid-Afrika se status as mynbouland het verlede jaar al 'n kwaai knou gekry en hy het teruggesak tot negende laaste van 84 lande. Vanjaar is hy die 57ste powerste bestemming van 62 lande. Net Zimbabwe (heel onder), Mosambiek (61), Suid-Soedan (60), Angola (59) en Zambië (58) het swakker gevaar.

Die Fraser-instituut kap Suid-Afrika onder meer oor 'n tekort aan opgeleide werkers, vervalle infrastruktuur en onsekerheid oor die administrasie van bestaande mynbouregulasies.

Die instituut steun ook op die menings van groot mynbou- en eksplorasiemaatskappye wat onder meer die volgende oor Suid-Afrika te sê gehad het: "Daar is veeleisende vereistes vir eienaarskap en sake doen wat beleggers afskrik," het die visepresident van 'n $50 miljoen-eksplorasiemaatskappy gesê. Nog 'n eksplorasiemaatskappy het die afwesigheid van 'n kadasterstelsel genoem wat spesifiek aandui wie bestaande mynboupermitte en prospekteerregte het. Die bestaande stelsel is hopeloos ontoereikend en die departement van minerale hulpbronne en energie sloer al langer as vyf jaar om 'n nuwe stelsel ingestel te kry.

Die haglike toestand van Suid-Afrika se spoorweë en verouderde en ontoereikende hawe-infrastruktuur het ook 'n beduidende invloed.

Rapport het vroeër berig dat groot en klein mynboumaatskappye in 2022 R51 miljard aan uitvoerinkomste verbeur het weens 'n tekort aan lokomotiewe en spoorlyne wat vir lang rukke onbruikbaar was. Steenkooluitvoer was verlede jaar op 'n 30-jaar-laagtepunt weens probleme op die spoorlyn na die Richardsbaai-steenkoolterminus.

Dít is terwyl steenkool rekordhoë pryse behaal het.

'n Lugfoto van 'n litiummyn in Salar de Atacama in Chili in Suid-Amerika. Die land het onlangs aangekondig dat alle bedrywighede wat met litium-ontginning verband hou genasionaliseer sal word. Foto: Getty Images
'n Lugfoto van 'n litiummyn in Salar de Atacama in Chili in Suid-Amerika. Die land het onlangs aangekondig dat alle bedrywighede wat met litium-ontginning verband hou genasionaliseer sal word. Foto: Getty Images

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad, sê die instelling gaan eersdaags met die departement vergader oor hoe die 15 probleemareas in die Fraser-verslag aandag kan kry.

"Dit is teleurstellend dat Suid-Afrika as 'n mynbouland in 'n slegte lig beskou word. Daar is fundamentele probleme in ons land wat opgelos moet word."

Elmira Aliakbari, direkteur van die Fraser-instituut se sentrum vir natuurlike-hulpbron-studies en mede-outeur van die verslag, sê beleidmakers oor die wêreld heen moet besef mineraalneerslae op sigself is nie genoeg om beleggers te lok nie.

" 'n Gesonde regulatoriese stelsel met 'n mededingende belastingstruktuur - dít is die dinge wat beleggers lok," sê sy.

Van die tien swakste lande vir mynboubeleggers is agt in Afrika. Die vasteland het van die wêreld se rykste neerslae van veral die nuwe batteryminerale en grondstowwe wat noodsaaklik is vir die oorskakeling na groenenergie soos koper, nikkel, kobalt en meer onlangs ook litium. Maar politieke onstabiliteit, wisselvalligheid in belastingbeleid en "hulpbron-nasionalisme" (wat veroorsaak dat regerings hul mynboubeleid soms oornag verander), skep onsekerheid onder beleggers.

Op die onlangs Mynbou-indaba in Kaapstad het bedryfspelers gesê Afrika benut nie sy geleenthede nie. Australië is byvoorbeeld die land wat die meeste litium ontgin, terwyl daar groter neerslae daarvan in die Demokratiese Republiek die Kongo is.

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

CTA