Steenkoolgroep vrees lang staking by Transnet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die agteruitgang in Transnet se spoorweë en hawebedrywighede het die mynbedryf R50 miljard se verlore geleenthede in 2022 gekos, volgens die Mineraleraad.  Foto: Verskaf
Die agteruitgang in Transnet se spoorweë en hawebedrywighede het die mynbedryf R50 miljard se verlore geleenthede in 2022 gekos, volgens die Mineraleraad. Foto: Verskaf

Die steenkoolmyngroep Thungela vrees 'n staking by Transnet wat langer as sewe dae gaan duur.

Die maatskappy besit sewe myne wat steenkool vir die uitvoermark myn.

Thungela het 'n verklaring aan sy beleggers uitgereik oor die moontlike impak van die staking wat Donderdag by Transnet begin het op sy bedrywighede.

Die United National Transport Union (Untu), die grootste vakbond by Transnet, het Donderdag met 'n staking begin nadat 'n loonooreenkoms van die staatsmaatskappy verwerp is.

"Die staking gaan waarskynlik sowel trein- as hawedienste ontwrig," sê Thungela.

Thungela voer deur Richardsbaai se steenkooleindpunt uit en die ontwrigting word op die spoorlyn daarheen verwag.

Die myngroep sê probleme die laaste maande met spoorweë het reeds tot 'n betreklik groot voorraad steenkool by sy myne en by Richardsbaai gelei.

"Bedrywighede kan nog sewe dae sonder spoorwegdienste voortgaan sonder dat daar 'n beduidende impak op produksie gaan wees.

"As die staking lank duur en twee weke raak, gaan ons ons produksie verder moet inperk - met die potensiële gevolg om steenkool vir uitvoer met 300 000 ton te verminder."

Omdat die steenkooleindpunt by Richardsbaai onafhanklik van Transnet bedryf word, behoort hy voort te gaan om skepe te laai. Dit sal egter onderhewig wees aan Transnet wat nog 'n aantal dienste verskaf om skepe in en uit die hawe te kry.

Dis juis die werknemers wat dié dienste verskaf, soos om sleepbote te bestuur, wat noodsaaklike werkers is en dus nie mag staak nie.

"Gegewe Richardsbaai se vermoë om nog skepe te laai en dat Thungela nog gesonde voorraad in die hawe het, verwag ons die impak op verkope in die vierde kwartaal sal beperk wees."

Volgens Thungela word sekuriteit ook op die steenkoolspoorlyne opgeskerp gegewe vorige probleme wat ervaar is.

Die myngroep skakel met Transnet om te begryp watter impak die staking op sy bedrywighede kan hê.

Volgens Thungela word sekuriteit ook op die steenkoolspoorlyne opgeskerp gegewe vorige probleme wat ervaar is.

Die maatskappy werk saam met Transnet en ander steenkooluitvoerders om bykomende sekuriteit te bewerkstellig, soos meer helikopters vir bewaking, 'n groter fokus op depots en 'n groter reaksiespan op die grond.

Fin24 het Donderdag berig die agteruitgang in Transnet se spoorweg- en hawebedrywighede het die mynbedryf R50 miljard se verlore geleenthede in 2022 gekos, volgens die Suid-Afrikaanse Mineraleraad.

Die syfers is op die Joburg-indaba bekendgemaak.

Transnet hou vol die staking is onwettig omdat Untu nie die voorskrifte van die Wet op Arbeidsverhoudinge gevolg het voordat hy besluit het om te staak nie, het Netwerk24 Donderdag berig.

SPELETJIES VANDAG

CTA