Steenkoolreus Exxaro verwag laer wins

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Argieffoto van Exxaro se Leeuwpan-myn naby Delmas. Foto: LOANNA HOFFMANN/BEELD
’n Argieffoto van Exxaro se Leeuwpan-myn naby Delmas. Foto: LOANNA HOFFMANN/BEELD

Exxaro Resources, een van die grootste steenkoolmyngroepe in die land en 'n groot verskaffer van steenkool aan Eskom, verwag 'n insinking in sy wins.

Exxaro maak Donderdag sy resultate vir die halfjaar tot einde Junie bekend, maar het Maandag gewaarsku sy wesensverdienste per aandeel vir die tydperk sal tussen 23% en 37% laer wees.

Dit is weens swakker steenkoolpryse, asook minder steenkool wat verkoop is.

Dit is vererger deur die voortslepende probleme wat Transnet Freight Rail (TFR) ervaar op sy steenkoolspoorlyn van die noorde van die land na die Richardsbaaise uitvoerhawe. Exxaro voer ook heelwat steenkool uit.

Volgens Exxaro het hy ook laer inkomste gekry van sy beleggings in die Sishen-ysterertsmaatskappy en Mafube Coal, weens laer pryse.

Die halfjaarsyfers word vergelyk met die buitengewoon goeie syfers van 'n jaar gelede toe Rusland se oorlog in Oekraïne 'n geskarrel vanuit Europa laat ontstaan het na meer steenkool uit Suid-Afrika.

Exxaro moes egter weens TFR se spoorprobleme groter koste aangaan om uitvoersteenkool per vragmotor te vervoer.

Exxaro was in Maart nog optimisties dat die Europese vraag na Suid-Afrikaanse steenkool tot diep in die lopende boekjaar sterk sou bly soos wat Europa steeds maniere soek om minder afhanklik van enige Russiese energiebronne te word.

Exxaro bedryf die Grootegeluk- en Leewpan-myn, asook die Matla-myn wat steenkool aan Eskom se Matla-kragstasie lewer. Exxaro het 'n 50%-belang in die Mafube-myn. Hy het 'n ferro-allooi-aanleg en 'n groenkragafdeling wat twee windplase in die Oos-Kaap bedryf.

SPELETJIES VANDAG

CTA