Steenkooluitvoer nie rede vir beurtkrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hope steenkool lê gereed om uitgevoer te word by die Richardsbaai-hawe in KwaZulu-Natal. Foto: Bloomberg News
Hope steenkool lê gereed om uitgevoer te word by die Richardsbaai-hawe in KwaZulu-Natal. Foto: Bloomberg News

Eskom se onvermoë om krag op te wek het niks met 'n tekort aan steenkool te make nie, sê die Mineraleraad van Suid-Afrika.

Dit volg ná "misleidende aantygings" op sosiale media dat die kragkrisis ontstaan het omdat Eskom se broodnodige steenkool uitgevoer word.

In 2022 het Suid-Afrika steenkool ter waarde van R215,5 miljard uitgevoer.

Daar is ook op sosiale media gevra dat dié uitvoer by die hawe in Richardsbaai gestaak moet word om die druk op Eskom te verlig, volgens 'n verklaring wat die raad Vrydag uitgereik het.

"Dit is die verkeerde diagnose van die uitdagings waardeur Eskom in die gesig gestaar word.

"Eskom se lae beskikbaarheid van opwekkingsvermoë wat beurtkrag veroorsaak, is omdat byna die helfte van sy steenkool-aangedrewe kragstasies buite werking is," sê die raad.

Die kragstasies is buite werking omdat van hulle onklaar geraak het, terwyl daar dringende instandhouding by ander gedoen is.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom se woordvoerder, het Vrydag aan die raad bevestig hy het nog genoeg steenkool vir die volgende 30,8 dae.

Die kragverskaffer se plan vereis 'n reserwe wat genoeg is vir 20 dae, en aflewerings by Eskom duur voort.

Die Mineraleraad pleit dat mense wat vra vir 'n inkorting van uitvoer "eerder daarop fokus om Eskom te help om die betroubaarheid van sy kragstasies te verbeter".

Die raad sê enige oproep om steenkooluitvoer te ontwrig sal lei tot:

  • Ontwrigte mynbedrywighede en potensiële werksverliese as die ontwrigtings uitgerek word;
  • Onsekerheid onder internasionale beleggers;
  • Skade aan Suid-Afrika se beeld as 'n betroubare bron van kommoditeite;
  • Regsuitdagings vir steenkooluitvoerders wat nie kontraktuele verpligtinge kan nakom nie; en
  • Verminderde belasting.

Eskom het in sy 2020-'21- geïntegreerde verslag aangedui dat hy 105 miljoen ton steenkool verbrand het.

Die kragvoorsiener se jaarlikse vraag na steenkool sal teen 2030 tot onder 50 miljoen ton verminder.

Dit is vanweë sy voorneme om teen dan 24 100 MW se steenkool-gegenereerde kragaanlegte buite werking te stel. "Die uitvoermark is van kritieke belang om die werk van 91 000 mynwerkers sowel as duisende ander poste in spoor-, pad- en hawelogistiek te beskerm," aldus die raad se verklaring.

Eskom het sedert Dinsdag fase 4- en fase 5-beurtkrag ingestel.

Mantshantsha het Vrydag by navraag gesê die naweek se beurtkrag sal afgekondig word "sodra ek weet wat om af te kondig".

SPELETJIES VANDAG

CTA