Transnet ‘is selfs vrotter as Eskom'

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Transnet is 'n nog groter nagmerrie vir die Suid-Afrikaanse mynbedryf as Eskom, het kongresgangers by vanjaar se Mynbou-indaba in Kaapstad gehoor.

Groot en klein mynboumaatskappye het die afgelope jaar R51 miljard aan uitvoerinkomste verbeur weens 'n tekort aan lokomotiewe, en spoorlyne wat lang rukke onbruikbaar was weens kabeldiefstal.

Haglike toestand: Die Jeppe-stasie in Johannesburg in 2020. Foto: Deon Raath
Haglike toestand: Die Jeppe-stasie in Johannesburg in 2020. Foto: Deon Raath

Die verlore uitvoerinkomste kom te midde van 'n sterk lopie in kommoditeitspryse. Kommoditeitspryse was laat verlede jaar 90% hoër in dollarwaarde as in 2021. Danksy die hoë pryse - en nie stygende uitvoervolumes nie - het die waarde van uitvoer in 2022 steeds met 2,5% toegeneem tot R878 miljard, vergeleke met die vorige jaar.

Suid-Afrika se mynboubedryf het die afgelope twee jaar tot die staatskas se redding gekom, want die hoër kommoditeitspryse lei tot hoër maatskappybelasting en hoër tantième. Maatskappybelasting uit dié sektor was in 2022 R73,6 miljard en tantième R14,2 miljard.

Die bedryf se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het byna R500 miljard beloop, wys die Mineraleraad se Facts & Figures-publikasie.

"Die minister (van finansies) Enoch Godongwana glimlag breed as hy my sien," het Roger Baxter, uitgaande uitvoerende hoof van die Mineraleraad, by die indaba gesê.

Die sterk kommoditeitslopie kan nog voortduur, het Goolam Ballim, hoofekonoom van Standard Bank, die afgelope week gesê.

China se besluit om sy zero-Covid-beleid op te hef, kan sy ekonomie met 5,5% tot 6% laat groei, wat goeie nuus is vir lande soos Suid-Afrika wat kommoditeite uitvoer. In fiskale waarde was kommoditeitspryse die laaste twee jaar Suid-Afrika se redding, het Ballim gesê.

Suid-Afrika se uitvoervermoë is egter onderhewig aan Transnet se vermoë om goedere hawens toe te vervoer en van daar te verskeep.

Een van die skreiendste voorbeelde van hoe Transnet se onvermoë mynbou-uitvoer kortwiek, is die feit dat steenkooluitvoer van die Richardsbaai-steenkoolterminus verlede jaar op 'n 30-jaar-laagtepunt was. Die bykans 600 km lange spoorlyn loop van Mpumalanga tot in Richardsbaai en die hawe het die vermoë om 91 miljoen ton steenkool uit te voer. Verlede jaar se uitvoer van 50,3 miljoen ton was die swakste sedert 1993.

Junior mynhuise sê padvervoer as plan B kos hulle jaarliks tot R500 miljoen ekstra.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en pres. Cyril Ramaphosa het in hul onderskeie toesprake by die afgelope week se indaba tyd afgestaan om die verval by Transnet en die stremming op mynbou-uitvoer te betreur. "Dit maak ons diep bekommerd," het Ramaphosa gesê.

Transnet skryf sy power verrigting deels toe aan 'n tekort aan lokomotiewe, wat vererger word weens 'n dispuut met die Chinese maatskappy CRRC oor die voorsiening van onderdele, en andersyds aan kabeldiefstal.

Wanneer vrag nie per spoor vervoer kan word nie, is mynhuise genoop om minerale per vragmotor te vervoer. Junior mynhuise sê byvoorbeeld padvervoer as plan B kos hulle jaarliks tot R500 miljoen ekstra.

Die spanning tussen Transnet en die Mineraleraad is einde verlede jaar op die spits gedryf toe 'n brief uitgelek het waarin die Mineraleraad die kop geëis het van Portia Derby, uitvoerende hoof.

Portia Derby, uitvoerende hoof van Transnet. Foto: Verskaf
Portia Derby, uitvoerende hoof van Transnet. Foto: Verskaf

Derby het verlede jaar by verskeie geleenthede na mynhuise gekap en voet by stuk gehou dat die regering - en nie die private sektor nie - moet pa staan om spoorlyne te bou en infrastruktuur in stand te hou.

Transnet het nou 'n U-draai gemaak en op 27 Januarie aangekondig dat hy 'n 20-jaar-konsessie beskikbaar sal stel aan 'n private vennoot om sy spoorlyn tussen Johannesburg en Durban te bedryf. Die spoorlyn is van die besigste en potensieel winsgewendste roetes en private maatskappye met baie geld sal ongetwyfeld hul lippe aflek vir so 'n sakegeleentheid.

Daar is egter 'n kinkel in die kabel: Die suksesvolle bieër sal Transnet Freight Rail se sowat 3 400 personeellede moet oorneem.

Hy sal ook meer as R5 miljard moet opdok vir infrastruktuur en treinwaens en lokomotiewe en die spoorlyn moet beveilig teen diefstal.

Logistiek-kenners het Transnet se voorneme om die konsessie uit te reik versigtig verwelkom, maar ook moontlike haakplekke uitgewys.

" 'n Twintig-jaar-tydperk is eintlik baie kort," het prof. Stephan Krygsman, vervoer- en stedelike ontleder by die departement van logistiek aan die Universiteit Stellenbosch, aan Rapport gesê. "Maatskappye wat spoorweë bedryf, het eintlik 25 tot 30 jaar nodig, want dit is die tyd wat dit neem waarin jy bates soos lokomotiewe afskryf."

Hy meen Transnet het geen ander keuse gehad nie as om die spoorlyn vir die private sektor aan te bied. "Met hierdie stap abdikeer Transnet en erken basies hy het misluk."

Ons besef ons kan net krisisse soos hierdie oplos as ons saam met die private sektor werk.

Krygsman meen egter die oopstel van die Johannesburg-Durban-spoorlyn kan ook weens druk wees van die presidensie omdat die Durban-hawe soveel inkomste afstaan aan die doeltreffender en moderner Maputo-hawe. Rapport het vroeër berig dat Suid-Afrikaanse hawens sowat R3 miljard aan inkomste verbeur weens opeenhopings en ondoeltreffendheid.

Myne het byvoorbeeld in 2021 meer as R2 miljard se chroom direk van Maputo uitgevoer omdat Suid-Afrikaanse hawens nie in hul behoeftes kon voorsien nie.

Transnet se konsessie-aankondiging einde Januarie het die ANC en ministers onkant gevang.

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, het onder skoot gekom gedurende 'n onlangse parlementêre komiteevergadering toe ontstelde ANC-LP's meer wou weet oor Transnet se planne, berig News24.

Die adjunkminister het gesê die departement het van geen sout of water geweet nie.

Ramaphosa het wel die afgelope week by die indaba én in sy staatsrede 'n lansie gebreek vir Transnet oor dié se planne om die private sektor betrokke te kry.

"Wanneer ons roetes oopstel vir derdeparty-toegang, sal dit broodnodige investering bring vir die opknapping, instandhouding en rehabilitasie van spoorlyne," het hy by die indaba gesê.

"Ons besef ons kan net krisisse soos hierdie oplos as ons saam met die private sektor werk. Hierdie (derdeparty-toegang tot spoorlyne) wys ons wíl met die private sektor saamwerk."

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

CTA