Verbeel jou jy bestel kitskoffie op 'n kosaflewerings-app en dit kom nog warm by jou aan.
In Indië is dit nie meer 'n droom nie. Apps wat belowe om alles van brijani tot chai binne 10 minute na klante se voorstoep of kantoordeur te bring, neem toe.
Onder die talle mededingers met kosaflewering is Zwiggy, wat pas genoteer is en waarin Prosus 'n belang van net minder as 25% besit.
Minstens vyf maatskappye het die laaste paar weke planne onthul of aangekondig om vinnige kosaflewerings aan te bied.
Die wyse waarop hulle dit doen, verskil.
Die Zomato-eenheid Blinkit se kosafleweringsprogram Bistro en Zepto Cafe maak staat op "donker" kombuise om kos vinnig voor te berei, terwyl Swiggy staatmaak op sy vennootskap met restaurante.
Aflewerings by die deur bestaan reeds dekades lank in Indië, waar familierestaurante afleweraars gehad het wat aflewerings te voet gedoen het.
Tegnologie het dié bedryf ontwrig.
Dit het gehelp om nuwe ondernemings te laat ontstaan wat ultra-vinnige aflewerings aanbied. Dit is opgeraap deur 'n welgestelde, slimfoon-vaardige, stedelike bevolking wat dadelik tevrede gestel wil wees.
Die resultaat was apps soos Zepto en Blinkit, wat enigiets van eiers tot oorfone - en selfs iPhones - in 'n blitsige tempo aflewer terwyl soortgelyke dienste elders ter wêreld gewoonlik 'n paar uur of dae neem.
Swiggy en Zomato se sukses het nie net die Indiese kleinhandelsektor verbeter nie, dit het hulle as aandelemark-lieflinge uitgewys.
Swiggy se aandeelprys het met 50% gestyg sedert die maatskappy verlede maand genoteer het. Zomato se aandeelprys het vanjaar al met 133% gestyg.

Namate Indië se 10-minuut-manie die segment van kosaflewering betree, sien makelaars 'n nuwe groeipad terwyl sommige verbruikers bekommerd is oor die gehalte van voedsel wat so in 'n japtrap gekook word.
Indië se aanlyn kosafleweringsmark sal na verwagting meer as verdubbel tot $15 miljard teen Maart 2029, volgens 'n verslag wat op 18 Desember deur JM Financial uitgereik is.
Platforms het teen 2023 net sowat 11% van die land se totale voedselverbruik binnegedring, vergeleke met 40% in China en 58% in die VSA.
Zepto Cafe, wat in 2022 die eerste was om met tien-minute-aflewering te begin, voeg elke maand 100 kafees by en kry 30 000 bestellings per dag, het sy stigter Aadit Palicha op 11 Desember in 'n plasing op X geskryf.
Dit sal nou mededinging kry van Zomato se Bistro, Swiggy se Bolt, Dash deur Ola Consumer en Magicpin se MagicNow.
Die Tata-groep, wat BigBasket besit, het vandeesweek gesê hy is besig om so 'n diens te finaliseer.
Die wedloop vir vinnige maaltye kom te midde van kommer oor gesondheidsorg en toenemende vetsug in Indië. Die land is een van die grootste verbruikers van gemorskos, aangespoor deur die toenemende beskikbaarheid van verpakte voedsel en lakse voedselveiligheidsregulasies.
Swiggy het nie dadelik op 'n e-pos vir kommentaar gereageer nie.
Die handhawing van afleweringstye op Indië se besige en hobbelrige paaie kan volgens ontleders 'n uitdaging wees. Om skaal te vergroot met 'n beperkte spyskaart is nog een.
Maar dit hou nie diensverskaffers terug nie, insluitend Swiggy wat Bolt na meer as 400 stede uitgebrei het.
"Verbruikers hou net van dinge vinniger," het Rohit Kapoor, Swiggy se uitvoerende hoof vir die voedselmark, op 3 Desember gesê en Bolt as " 'n groot weddenskap" beskryf. "Ons is baie optimisties oor die potensiaal wat dit inhou vir nie net dié aanbieding nie, maar die toekoms van kosaflewering self." - Bloomberg, verkort en verwerk
• Naspers se internasionale filiaal Prosus is 'n groot aandeelhouer in Swiggy, met 'n belang van net minder as 25%. Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n Naspers-filiaal.





















