Ondernemings, regerings, beginondernemings en navorsers in Afrika sal binnekort toegang tot die jongste kunsmatige intelligensie- (KI) infrastruktuur hê om hul KI-idees te realiseer.
So sê Strive Masiyiwa, stigter van Cassava Technologies, 'n maatskappy wat digitale dienste en infrastruktuur verskaf.
Cassava beplan om saam met Nvidia, 'n Amerikaanse maatskappy wat rekenaarskyfies ontwikkel en vervaardig, Afrika se eerste "KI-fabriek" in Suid-Afrika te bou, berig Bloomberg.
Cassava sal Nvidia se gevorderde rekenaar- en KI-programmatuur teen Junie by sy datasentrums in Suid-Afrika ontplooi en dan by sy ander aanlegte in Egipte, Kenia, Marokko en Nigerië.
Die ontplooiing van KI-infrastruktuur is van kritieke belang as Afrika ten volle uit die vierde nywerheidsrevolusie wil voordeel trek, sê Masiyiwa.
"Die vennootskap gee vir Afrika die nodige rekenaarvermoëns om KI-innovering aan te dryf om die vasteland se digitale onafhanklikheid te ondersteun."
Luidens Cassava se verklaring is hul datasentrums ontwerp om energiedoeltreffend te wees en gebruik dit minder elektrisiteit om die werklading van KI-berekeninge aan te dryf.
Wolk-vennoot
Cassava beoog om die eerste maatskappy te wees wat versnelde berekeninge in Afrika bekend stel as 'n Nvidia-wolkvennoot.
"KI help innoveerders om groot uitdagings in landbou, gesondheidsorg, energie, finansiële dienste en baie ander nywerhede op te los wat geleenthede in Afrika skep," sê Jaap Zuiderveld, visepresident van Nvidia in Europa, die Midde-Ooste en Afrika.
"As 'n Nvidia-wolkvennoot, verskaf Cassava noodsaaklike infrastruktuur en programmatuur om ondernemings en organisasies te help om KI-ontwikkeling te versnel om innovering oor die vasteland heen te bevorder."
Verskeie maatskappye, waaronder Microsoft en G42, die Verenigde Arabiese Emirate se top-KI-maatskappy, het verlede jaar belangstelling daarin uitgespreek om 'n geotermies aangedrewe datasentrum van $1 miljard in Kenia te bou as deel van 'n veeljarige plan om wolkrekenaarsvermoëns in Oos-Afrika 'n hupstoot te gee. Geotermiese krag is waar die natuurlike hitte onder die grond benut word om elektrisiteit op te wek.
Netwerk24 het vroeër berig dat Google Suid-Afrika amptelik sy wolkdiensstreek in Johannesburg bekend gestel het - die eerste in sy soort in Afrika.
- stefani.terblanche@media24.com





















