Indien jy nog 'n maatskappy nodig het om kruideniersware by jou huis af te lewer, het jou opsies nou verbreed.
Amazon Suid-Afrika het Dinsdag aangekondig dat hy nou drie gewilde kategorieë vir alledaagse noodsaaklikhede by sy produkaanbod gevoeg het, naamlik kruideniersware, troeteldierkos, en vitamiene en aanvullings.
Luidens 'n verklaring is dit 'n belangrike mylpaal vir Amazon se groei in Suid-Afrika.
"Ons is verheug om hierdie uitgebreide nuwe kategorieë na Suid-Afrikaanse klante te bring," sê Robert Koen, Amazon se bestuurder vir Afrika suid van die Sahara.
"Sedert ons bekendstelling het ons noukeurig na kliënte se terugvoering geluister, en kruideniersware, troeteldierbenodigdhede en gesondheidsaanvullings was deurgaans onder hul topversoeke."
Internasionale handelsmerke soos Nestlé, Red Bull en Starbucks sal beskikbaar wees, asook plaaslike name soos Beacon, Simba en Koo wat nou deel van die kategorie niebederfbare voedsel uitmaak.
Amazon Suid-Afrika het in Mei verlede jaar sy virtuele deure oopgemaak en het reeds meer as 4 300 plekke waar klante hul bestellings oor die land heen kan gaan afhaal. Hulle bied ook gratis aflewering vir produkte van Amazon self (dus nie derdepartyprodukte wat op die webwerf verkoop word nie).
Waarin stel Suid-Afrikaners belang?
Luidens vroeëre data van Amazon stel klante in die volgende belang:
1. Kruideniersware: koffie, tee, ontbytgraan, pasta, kookolies en ingelegde goedere;
2. Troeteldierkos: 'n besondere vraag na premium-handelsmerke van troeteldierkos en spesialiteitsformules vir honde, katte, voëls, visse en ander klein diere;
3. Vitamiene en aanvullings: multivitamiene, minerale, sportvoeding en spesialiteitsaanvullings.
Philile Mabolloane, hoof van kleinhandel vir verbruikbare goedere van Amazon Suid-Afrika, sê kliënte hou veral van die grootmaat-aankoopopsies en multipak-besparings oor die kategorieë heen.
- stefani.terblanche@media24.com



















