Tegnuus

Apple se Siri gaan met Google se KI werk

 Apple se volgende generasie kunsmatige intelligensie (KI)-kenmerke, waaronder sy Siri-assistent, sal deur Google se Gemini-tegnologie aangedryf word.
AI Apps Apple se volgende generasie kunsmatige intelligensie (KI)-kenmerke, waaronder sy Siri-assistent, sal deur Google se Gemini-tegnologie aangedryf word. (hapabapa/Foto: Getty Images)

Die tegnoreuse Apple en Google het Maandag ’n vennootskap aangekondig wat behels dat Apple se volgende generasie kunsmatige intelligensie (KI)-kenmerke, waaronder sy Siri-assistent, deur Google se Gemini-tegnologie aangedryf gaan word.

Die samewerking dui op ’n beduidende verskuiwing vir Apple, wat tradisioneel sy kerntegnologieë intern ontwikkel het.

Apple het Google se KI-tegnologie gekies ná ’n “sorgvuldige evaluering”, wat bepaal het dat dit “die mees bekwame grondslag” vir die iPhone-maker se KI-ambisies kan voorsien, lui ’n gesamentlike verklaring.

Die aankondiging verteenwoordig ’n seldsame vennootskap tussen twee maatskappye wat al lank in die slimfoonmark meeding, waar Apple se iOS en Google se Android-bedryfstelsel wêreldwyd oorheers.

Die twee mededingers het egter jare lank ’n winsgewende vennootskap gehandhaaf, met Google wat Apple jaarliks miljarde dollars betaal om die verstek-soekenjin op iPhones en ander Apple-toestelle te bly.

Die Amerikaanse departement van justisie het egter in ’n teenmonopolie-saak geargumenteer dat dié ooreenkoms Google help om sy soek-monopolie te handhaaf. Tog het ’n regter gesê die reëling kan voortgaan.

Elon Musk, wat sy eie KI-maatskappy, xAI, besit, bestempel die jongste reëling as teenmededingend. Hy beskryf dit as ’n “onredelike konsentrasie van mag vir Google, in ag genome dat hy ook Android en Chrome besit”.

Apple het glo ook samewerking met OpenAI, Anthropic en Perplexity oorweeg.

Hoewel die finansiële besonderhede van die KI-reëling nie bekend gemaak is nie, het die nuus van die ooreenkoms die markwaarde van Alphabet, Google se moedermaatskappy, vir die eerste keer bo die kerf van $4 000 miljard laat styg.

Dan Ives van Wedbush Securities sê die vennootskap is ’n “groot geldigheidsoomblik vir Google” en “ ’n stap in die regte rigting” vir Apple om sy KI-strategie op koers te kry vir 2026 en verder.

Apple sukkel glo met die KI-vermoëns van sy produkte. In Desember het hy aangekondig dat die hoof van sy KI-span sou uittree.

Verlede jaar het die maatskappy die bekendstelling van ’n verbeterde Siri uitgestel en belowe dit nou vir later in vanjaar.

Google, Microsoft, OpenAI en ander tegnologie-mededingers het verbeterde KI-modelle en -kenmerke bekend gestel in die wedloop om die sektor te lei.

Ondanks die samewerking, beklemtoon Apple dat Apple Intelligence, sy interne KI-stelsel, gebruik sal word om sy iPhones en iPads op ’n toestelvlak aan te dryf om “bedryfsleidende privaatheidstandaarde” te handhaaf.