Digitale bankbedrog styg met bykans 50%

Kunsmatige Intelligensie skep ’n al hoe groter bedreiging van bedrogskemas wat op die banksektor gemik is.  
Kunsmatige Intelligensie skep ’n al hoe groter bedreiging van bedrogskemas wat op die banksektor gemik is.   (Foto: Gallo Images)

Kunsmatige intelligensie (KI) waarmee gesofistikeerde bedrogskemas gepleeg word, hou ’n groeiende bedreiging in vir misdaad in die banksektor.

Dié waarskuwing blyk uit die 2024-verslag oor misdaadstatistieke van die Suid-Afrikaanse Bank Risiko-inligtingsentrum (Sabric) wat ’n omvattende ontleding van finansiële misdaadtendense bevat.

’n Skerp styging van bykans 50% in digitale bankbedrog is in 2024 ervaar met verliese wat meer as R1,4 miljard beloop.

Tendense

In 2024 het digitale bank-bedrog, app-bedrog en kaartverwante misdaad beduidend toegeneem.

Ontluikende tegnologieë, veral generatiewe KI, is deur misdadigers as ’n hefboom gebruik om meer gesofistikeerde bedrogskemas te skep.

KI-gedrewe verneukery, uitvissing-veldtogte en diepvervalste uitbeeldings beklemtoon die noodsaaklikheid vir aanpasbare, intelligensie-gedrewe veiligheidstrategieë, lui die verslag.

Verliese uit finansiële misdaad in Suid-Afrika het in 2023 saam R3,3 miljard beloop. Dié syfer het in 2024 tot R2,7 miljard geval; bykans 18% laer. Sabric skryf die verbetering toe aan die beter voorkomings- en opsporingsmaatreëls wat deur die banksektor ingestel is.

Misdadigers het egter aangepas by die veranderende omgewing en bedrieërs misbruik toenemend KI-instrumente om bedrog te pleeg.

André Wentzel, uitvoerende hoof van Sabric, sê in ’n verklaring misdadigers gebruik KI as ’n hefboom om bedrog te pleeg wat legitiem en oortuigend voorkom. “Van foutlose uitvissing, e-pos tot KI-gegenereerde WhatsApp-boodskappe en selfs stem-gekloonde diepvervalsings – dié taktiek beklemtoon die noodsaaklikheid vir proaktiewe en samewerkende strategieë om verbruikers te beskerm.”

Digitale bankbedrog

Digitale bankbedrog het in 2024 oorheers en was verantwoordelik vir 65,3% van alle aangemelde voorvalle. Die getal voorvalle het bykans verdubbel van 31 612 in 2023 tot 64 000 in 2024, terwyl verliese van R1 miljard tot meer as R1,4 miljard toegeneem het.

Dié voorvalle was weens sosiaal-gemanipuleerde tegnieke wat menslike foute uitbuit eerder as deur middel van bank-platforms wat tegnies in gevaar gestel is.

Bedrog met bankkaarte

Bedrog met bankkaarte is oorheers deur voorvalle waar die kaart nie teenwoordig was nie.

Dit was verantwoordelik vir verliese van meer as R1,8 miljoen, oftewel 85,6% van bruto verliese weens bedrog met kredietkaarte wat in Suid-Afrika uitgereik is.

Verlore en gesteelde kaarte was verantwoordelik vir 8,2%, terwyl vals aansoeke 2,9% bygedra het.

Bedrog met vervalste kaarte bly ook ’n bekommernis. Tolhekke en vulstasies is as brandpunte vir sulke voorvalle geïdentifiseer.

Kitsbank-aanvalle

Die getal kitsbank-aanvalle het met 18% gedaal van 366 tot 301, wat ’n 44%-daling in kontant-verliese meegebring het.

Verwante rooftogte (waar mense gevolg word nadat hulle geld getrek het) het van 634 tot 414 voorvalle (35% laer) geval.

Bankrooftogte

Drie voorvalle van bankrooftogte is in 2024 aangemeld waar kontant geteiken is.

Oortreders het ook bates soos skootrekenaars en rekenaars geteiken, maar in 56% van die voorvalle is niks gesteel nie.

’n Bekende modus operandi vir misdadigers om deur die agterste deel van ’n banktak toegang te verkry, deur op die dak te klim, die sinkplaat te sny om só binne die banktak te kom, het weer gewild geword in 2024.

Hamerbore en slypmasjiene word daarna ingespan om die kluis oop te breek.

Gauteng met agt voorvalle, die Wes-Kaap met ses en die Oos-Kaap met vyf was die provinsies waar die meeste rooftogte by banktakke aangemeld is.

“Die beskerming van die finansiële sektor vereis konstante paraatheid en samewerking deur alle banke, reguleerders, wetstoepassingsagentskappe en die burgerlike samelewing,” sê Wentzel.

– philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA