FNB Connect bied ook nou internasionale e-SIM aan

FNB Connect het vandeesweek bekendgemaak dat hulle internasionale e-SIMs gaan verkoop.
FNB Connect het vandeesweek bekendgemaak dat hulle internasionale e-SIMs gaan verkoop. (Foto: Getty Images)

FNB Connect is die jongste groep wat internasionale e-SIMs aan hul kliënte bekendgestel het.

Die Global Travel e-SIM sal FNB-kliënte in staat stel om bekostigbaar en moeiteloos aan meer as 240 internasionale mobiele netwerke verbind te bly – sonder om SIM-kaarte te ruil of om oor onverwagte swerwingskoste (roaming) bekommerd te wees.

Sashin Sookroo, uitvoerende hoof van FNB Connect, sê die e-SIM, wat op die FNB-app gekoop kan word, is net nog ’n manier waarmee die bank sy kliënte se lewe probeer vergemaklik.

Bo en behalwe die moontlikheid van oproepe terwyl mens oorsee reis, stel die e-SIM kliënte in staat om toegang tot data te verkry en dit te gebruik terwyl hulle reis.

Die Global Travel e-SIM volg op FNB Connect se bekendstelling van sy plaaslike e-SIM verlede jaar.

Die meerderheid (61,7%) van FNB Connect se plaaslike e-SIM-kliënte is op herlaaiplanne (top up plans), en 38% is op voorafbetaalde planne.

Bykans 70% van FNB Connect-kliënte wat plaaslike e-SIMs het, het dit op die FNB-app en sonder enige hulp van hul bankkonsultante gekry.

“FNB Connect se benadering tot konnektiwiteit was nog altyd gesentreer op insluiting, integrasie en innovasie. En ons verwag dat ons kliënte waarde sal vind in die eenvoud, deursigtigheid en digitale gerief wat ons bied met die Global Travel e-SIM,” sê Sookroo.

Ander groepe het soortgelyke produkte

In Suid-Afrika het MTN en Vodacom in 2019 vir die eerste keer e-SIMs aan kontrakkliënte aangebied.

’n E-SIM is ’n digitale weergawe van die fisieke SIM-kaart. Dit werk nes ’n SIM-kaart en is by sommige toestelle ingebou.

LEES OOK |SIM-kaart se dae is getel, lank lewe die e-SIM

MTN werk nou saam met maatskappye soos KnowRoaming om e-SIM-reisplanne aan te bied. Dit is e-SIMs wat slegs met data werk wat meer bekostigbare bundels bied vir gebruik in 150 bestemmings.

Vodacom bied verskeie internasionale swerwingsopsies om kliënte meer beheer oor hul besteding in die buiteland te gee.

Cell C het ’n internasionale swerwingsdiens wat kliënte in staat stel om hul SIM-kaarte, insluitend ’n e-SIM, in meer as 140 lande te gebruik. Hulle het spesifieke tariewe vir stem, SMS en data en dit is noodsaaklik om die tariewe voor ’n reis na te gaan.

LEES OOK |Cell C met R500 000 beboet vir ‘onbillike’ swerwing-rekening

Netwerk24 het vroeër berig dat die Nasionale Verbruikerstribunaal Cell C met R500 000 beboet het nadat ’n kliënt ’n skokkende rekening vir internasionale data-gebruik ontvang het nadat sy ’n limiet daarop gestel het.

Dit nadat sy ’n faktuur van R11 265,32 ontvang het, R7 480 meer as die limiet waartoe sy ingestem het.

– stefani.terblanche@media24.com

saamgestel deur stefani terblanche

SPELETJIES VANDAG

CTA