Vir die volgende drie tot vyf jaar sal Google jaarliks die Suid-Afrikaanse media met tussen R300 miljoen en R500 miljoen moet vergoed vir die "wanbalans" in inkomste wat hulle uit Suid-Afrikaanse inhoud verdien.
Dit is een van die voorstelle in die voorlopige verslag ná die Mededingingskommissie se ondersoek na die media en digitale platforms.
Die verslag, wat Maandag vir kommentaar uitgereik is, kom ná 'n 16 maande lange ondersoek wat sittings agter geslote deure, konsultasies, 'n peiling onder verbruikers en fokusgroepbesprekings ingesluit het.
Doris Tshepe, kommissaris van die Mededingingskommissie, het op die voorlegging van die verslag by die departement van handel, nywerheid en mededinging se kantore in Pretoria gesê die Suid-Afrikaanse mediasektor is die laaste paar jaar onder baie druk namate verbruikers aanlyn skuif.
Die ondersoek is geïnisieer omdat die Mededingingskommissie rede gehad het om te glo dat digitale platforms wat nuusinhoud versprei mededinging belemmer, verdraai of beperk.
"Die ondersoek is geprioritiseer om seker te maak dat ons 'n sterk, onafhanklike media behou."
Google se inkomste
Verskeie mediamaatskappye het verlede jaar in hul voorleggings gewys op die wanbalans in die Suid-Afrikaanse mark vir digitale advertensies, wat deur groot multinasionale maatskappye soos Google en Meta oorheers word.
Paula Frey, lid van die ondersoekpaneel, sê terwyl nuusorganisasies voordeel van R200 miljoen uit advertensies danksy verwysingsverkeer (referral traffic) getrek het, het Google in 2023 tussen R800 miljoen en R900 miljoen uit nuusinhoud gebaat. Dit dui op 'n jaarlikse wanbalans van tussen R300 miljoen en R500 miljoen.
Google gaan nie net lag en betaal nie
Google is nie van plan om die verslag net te aanvaar nie, blyk uit antwoorde aan Netwerk24.
Die maatskappy sê hy stem nie saam met die bewering dat Google 'n "buitensporige waarde" van nuusmedia-uitgewers geneem het nie.
"In 2023 het ons produkte soos Google Search en News 'n geraamde R350 miljoen aan verwysingsverkeerwaarde vir Suid-Afrikaanse uitgewers gegenereer terwyl ons minder as R19 miljoen verdien het uit advertensies wat langs nuusnavrae vertoon is."
Google sê hy het ook in produkte, opleiding en vennootskappe belê om uitgewers en die breër nuus-ekosisteem te ondersteun, en sal voortgaan om dit te doen.
Raj Lalbahadur, tussentydse uitvoerende hoof van Media24,verwelkom die bevindinge van die ondersoek.
"Ons, tesame met ons regspan, sal die voorlopige verslag en sy aanbevelings,insluitend die voorgestelde vergoedings en ander oplossings, van naderbestudeer om dan steeds aktief aan die volgende fase van die ondersoek deel teneem."
Aanbevelings en optrede
"Ons fokus was meer op die uitslae wat ons wil sien. Ons is buigsaam oor hoe presies dit moet plaasvind. Ons soek 'n wen-wen-oplossing op lang termyn," sê James Hodge, ook lid van die paneel.
Op kort termyn is die vergoeding deur Google belangrik. Terselfdertyd sal hulle tegniese veranderinge moet aanbring wat "volhoubare gedeelde waarde" met die media sal skep deur toenames in verwysingsverkeer (referral traffic).
Hodge sê indien hulle nie 'n wen-wen-oplossing kan vind waar soekenjins die mededingingsprobleem kan oplos nie, sal hulle bloot vir die negatiewe uitkomste moet betaal. 'n Permanente digitale tarief of heffing van 5% tot 10% op die inkomste uit digitale advertensies sal van die soekenjins Google en Bing verwag word.
Ander aanbevelings
Verdere aanbevelings is dat Meta nuus op Facebook moet prioritiseer, met 'n 100%-toename in verwysingsverkeer én om verder op te hou om plasings van mediamaatskappye met skakels te depriorisiteer.
Hodge sê ook die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies moet gewysig word om sosialemediaplatforms aanspreeklik te hou vir skadelike inhoud en die verspreiding van disinformasie.
Die media moet ook toegelaat word om gesamentlik met kunsmatige-intelligensie (KI)-maatskappye te onderhandel vir inhoudtransaksies om kletsbotte op te lei. Indien nie, moet tegniese maatreëls in plek wees om te verhoed dat KI-kletsbotte huidige globale mediavennote bevoordeel en om verwysingsverkeer na nuusmedia te dryf.
• Die verslag is voorlopig en belanghebbendes en die publiek het ses weke om hul kommentaar in te dien. Alle voorleggings moet na mdpmi@compcom.co.za gestuur word teen 17:00 op 07 April 2025 en moet ondersteunende bewyse insluit waar relevant.
- stefani.terblanche@media24.com
• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24.





















