Google het ooreenkomste met twee Amerikaanse elektrisiteitsmaatskappye onderteken om die kragverbruik van sy kunsmatige-intelligensie(KI)-datasentrums te verminder wanneer die vraag in die kragnetwerk baie hoog is.
Dié aankondiging volg nadat nutsmaatskappye in Amerika oorval is met versoeke vir elektrisiteit deur groot tegnologiemaatskappye vir hul KI-datasentrums. Dié groeiende vraag het in sommige gebiede die beskikbare opwekkingsvermoë oortref.
Hoewel die kragtekort die tegnologiebedryf se uitbreiding van KI - wat groot hoeveelhede energie nodig het om te funksioneer - bemoeilik, lei dit ook tot kommer oor die moontlikheid van stygende kragrekeninge vir sowel huishoudings as ondernemings, asook kragonderbrekings.

Google se ooreenkomste met Indiana Michigan Power en Tennessee Power Authority behels dat kragverbruik by die tegnologiereus se datasentrums afgeskaal sal word wanneer die elektrisiteitsmaatskappye dit versoek om kapasiteit op die kragnetwerk te skep.
Dit is die eerste formele ooreenkomste wat Google met nutsmaatskappye aangaan om die werklading, en dus kragverbruik, van sy masjienleerbedrywighede tydelik te beperk.
"Dit laat groot kragverbruikers soos datasentrums toe om vinniger met mekaar verbind te word en help om die behoefte aan nuwe transmissienetwerke en kragstasies te verminder. Dit stel kragnetwerkoperateurs ook in staat om kragnetwerke meer doeltreffend te bestuur," het Google in 'n verklaring gesê.
Ooreenkomste soos dié word tipies aangegaan met ander kragintensiewe nywerhede soos fabrieke of ondernemings wat kriptogeldeenhede ontgin. In ruil vir hul laer kragverbruik ontvang die ondernemings oor die algemeen betaling of goedkoper krag.
Die ooreenkomste betreffende KI-datasentrums se kragverbruik is betreklik nuut en besonderhede oor die kommersiële reëlings tussen Google en die nutsdienste is nog nie duidelik nie.
Hoewel die ooreenkomste slegs op 'n klein gedeelte van die druk op die netwerk van toepassing is, kan dié reëlings toenemend meer algemeen word namate elektrisiteitsvoorsiening in Amerika afneem.





















