Tegnuus

Hommeltuie al hoe handiger

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Juan Nel, eienaar van Apex Agritech in Pretoria, spesialiseer in hommeltuigdienste in die landbou. Hy en sy span staan boere by met die saai, spuit en opmetings van landerye deur middel van hommeltuigtegnologie. Foto: DEON RAATH
Juan Nel, eienaar van Apex Agritech in Pretoria, spesialiseer in hommeltuigdienste in die landbou. Hy en sy span staan boere by met die saai, spuit en opmetings van landerye deur middel van hommeltuigtegnologie. Foto: DEON RAATH

Sonder hommeltuie sou omgewingsbewaarders minder geweet het van die suidelike noorkapper-walvisse in Suid-Afrika, mynmaatskappye sou nie noodsaaklike patrolliewerk vanuit die lug kon doen nie en boere sou steeds die duurder, tradisionele bespuiting van landbougewasse moes doen.

Terwyl die meeste hommeltuie in Suid-Afrika steeds vir pret gebruik word, gebruik gevestigde bedrywe dit al hoe meer omdat dit doeltreffender, vinniger, goedkoper en veiliger is as om byvoorbeeld 'n helikopter te huur.

Volgens die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is sowat 6 000 hommeltuie vir kommersiële gebruik geregistreer.

Alan Ball van Flying Robot, die eerste winkel in Suid-Afrika wat hommeltuie en -onderdele verskaf, vervaardig en instandhouding doen, sê die grootste kommersiële gebruik is in die myn­bedryf, gevolg deur opmetings en inspeksies en die landboubedryf.

Op myne word dit gebruik om persele en heinings te monitor, misdadigers te agtervolg en inligting oor voorraadhope te bekom.

Wanneer dit kom by natuur­bewaring, word hommeltuie ingespan om seldsame diere op te spoor, wild- of voëlkolonies te tel en selfs 3D-skanderings van bome te doen, sê die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT).

Alan Ball van Flying Robot.Foto:
Alan Ball van Flying Robot.Foto:

Alle hommeltuie in Suid-Afrika wat vir kommersiële take gebruik word, moet by die BLO geregistreer word. Dit kan net deur 'n vlieënier met 'n afstandsbeheer-vlieëniersertifikaat (RPC) gevlieg word vir maatskappye met 'n sertifikaat van die BLO.

Sisa Majola, kommunikasie­bestuurder van die BLO, sê daar is 2 658 afstandsbeheer-vlieëniersertifikate op die reguleerder se databasis geregistreer.

Hommeltuie vir persoonlike gebruik hoef nie by die BLO geregistreer te wees nie, maar gebruikers moet die reëls nakom. Die BLO laat net hommeltuie onder 7 kg toe vir private gebruik in Suid-Afrika. Tensy goedgekeur deur die BLO, bepaal die regulasies onder meer dat:

• Niemand 'n hommeltuig mag vlieg in 'n beheerde, beperkte of verbode lugruimte nie. Dit sluit in misdaadtonele, howe, tronke, kragstasies en nasionale sleutelpunte;

• 'n Hommeltuig mag nie binne 10 km van 'n lughawe, heliblad of vliegveld vlieg nie; en

• Hommeltuie moet minstens 50 m weg wees van enige groep mense in openbare plekke soos by sportvelde en skole.

Lourens Leeuwner, senior bewaringsbestuurder van die EWT, sê egter die verpligte registrasie van hommeltuie, vereiste opleiding en lisensies is faktore wat dit moeilik maak vir natuur­bewaarders om die mark sonder aansienlike kapitaal te betree.

Ball meen die streng wetgewing hou nie tred met die vinnige ontwikkeling in die veld nie. Dit kos gemiddeld R25 000 om 'n sertifikaat as 'n afstandsvlieënier (RPC) te bekom vir kommersiële gebruik, terwyl vlieëniers in Amerika en Brittanje bloot 'n aanlyn kursus kan voltooi.

Kopano Tholo, hommeltuig-kundige by ITOO Special Risks, sê hommeltuig-eienaars moet ook genoegsame versekering hê weens die risiko's wat daarmee verband hou.

'n Boer maak . . . 'n nuwe vriend

Juan Nel (38) het twee jaar gelede as laaimeester by Safair bedank. Ten tyde van sy bedanking het hy 'n vlieglisensie en 'n hommeltuiglisensie gehad en geweet sy liefde vir lugvaart moet deel wees van sy toekoms.

"Ek wou in die buitelug wees en iets doen wat 'n verskil maak. Ek het ook besef hommeltuie is die toekoms. Selfs vliegtuie gaan in die toekoms hulself vlieg. Ek wou iets nuuts doen en deel wees van die Vierde Nywerheidsrevolusie."

Ná 'n kursus om plaagbestryding met sy hommeltuig te leer het hy die maatskappy Apex Agritech gestig. Vandag doen dit spuitwerk van mielies, sojabone, aartappels, suikerbone, gars, makadamia-bome, gemmer en suikerriet in ses provinsies. Hy hoop om volgende jaar ook in die Wes-Kaap se koringstreek te werk. "Al hoe meer boere skuif oor van die tradisionele metodes na die gebruik van hommeltuie," sê hy.

Sy hommeltuig gebruik sowat 10% van die water wat 'n boer andersins sou benodig. Hy kan 8 hektaar per uur bespuit en het 'n spuittenk van 40 liter. Hy het ook 'n kleiner, multispektrale hommeltuig wat die gesondheid van gewasse uit die lug kan bepaal. Dit kan kolle identifiseer waar daar byvoorbeeld water of bemesting kort.

Nel werk saam met kenners van grondtoestande en chemikalieë om die regte behandeling vir elke land te bepaal. "Goeie beplanning lei tot goeie uitkomste," is die leuse wat hy in die lugmag geleer het en nog elke dag toepas.

Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM