Magda Wierzycka vrees vir haar veiligheid ná Discovery-voorval

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Magda Wierzycka  Foto: Argief
Magda Wierzycka Foto: Argief

Die miljardêr-sakevroue en stigter van die batebestuurder Sygnia, Magda Wierzycka, het Discovery Insure by die owerhede verkla nadat haar en ander polishouers se persoonlike inligting uitgelek het.

Die uitgesproke Wierzycka het meer bekend onder gewone Suid-Afrikaners in die era van staatskaping geword toe sy nie geskroom het om kaalvuis haar siening daaroor uit te spreek nie.

'n Bom het Woensdagaand bo Discovery Insure se kop gebars toe Wierzycka op X geskryf het dat sy pas 'n e-pos van die versekeraar ontvang het oor die datalekkasie.

Sy het ook die kennisgewing wat sy ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) ontvang het, op X geplaas.

Dit toon haar persoonlike inligting wat gesteel is, sluit in haar woonadres, selfoonnommer, e-posadres, ID-nommer, en elke item wat op haar polis by Discovery verseker is.

Volgens haar is die waarde van die items ook bekom.

Luidens die brief wat sy geplaas het, sê die versekeraar van haar persoonlike inligting is sonder haar toestemming aan 'n ongemagtigde persoon gegee.

Die versekeraar ontken dit dat dit iets met sy stelsels te doen het, maar sê 'n nabootser het sy oproepsentrum gebel en Wierzycka se polisskedule versoek.

Volgens Discovery Insure het 'n ondersoek getoon die persoon het "heel waarskynlik die persoonlike inligting bekom ná 'n vorige kuberaanval wat by 'n ander party plaasgevind het, insluitende kredietburo's (in 2020), boodskapplatforms (in 2024) en deur middel van ander data-skraap tegnieke".

"Die persoon het die inligting gebruik om verby Discovery Insure se identifikasie- en verifiëringsproses te kom, en sodoende is die polisskedule bekom."

Die voorval is by die Buro vir Versekeringsmisdaad en die Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) aangemeld.

In reaksie op Wierzycka se X-inskrywings het @Discovery_SA gesê: "Om te verduidelik. Die voorval raak minder as 20 Discovery Insure-kliënte".

Dr. Pieter van der Walt, die groep se hoof van datageheimhouding, sê in die brief wat aan Wierzycka gestuur is daar kon nog nie vasgestel word wie die persoon is wat die data wederregtelik bekom het nie.

Wierzycka sê op X die reaksie van die Discovery Insure wys hulle erken daar is fisiese gevare vir die mense wat geraak is.

"Laat ek uitwys watter ongelooflike persoonlike veiligheidsrisiko Discovery geskep het. Die bedrieërs wil nie die geld in jou bankrekening kry nie. Hulle wil die waardevolle goed in jou kluis kry. Om dit te kry moet jy fisies in die huis wees . . ."

https://x.com/Magda_Wierzycka/status/1798699511897841925

Wierzycka het aan News24 gesê sy moes weer lyfwagte huur, moes noodgedwonge haar en haar man se motors verkoop en die sekuriteitstelsel by die huis opknap ná die gebeure.

"Hulle het alles van ons, selfs die besonderhede van ons motors. Die idee is nie om finansiële data te steel nie, maar om by jou huis in te breek."

Sy is ook bekommerd oor ontvoering.

Volgens haar het sy en haar gesin in 2017 lyfwagte gehad tydens haar betrokkenheid by 'n inisiatief waarmee inligting oor die Guptas, wat hul betrokkenheid by staatskaping getoon het, met die media gedeel is.

Haar kommentaar op X oor die uitslag van die afgelope verkiesing het ook reaksie ontlok wat sy as "kwalik bedekte dreigemente" beskryf.

Sy het vertel dat 'n aanval op haar in Pole toe sy 10 jaar oud was, haar paranoïes oor veiligheid gemaak het. Haar familie het van daar na Suid-Afrika gevlug.

Discovery Insure het ook aan News24 gesê Wierzycka se man is op 17 Mei reeds van die datalekkasie ingelig, maar dat hy nie toe daarop gereageer het nie, omdat hy dit dalk nie gesien het nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA