Tegnuus

Media24 beoog nié die einde van ‘Drum’ en ‘TrueLove’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
As jy nie verlies is op die gevoel van glanspapier in jou hande nie, teken op die elektroniese weergawe van tydskrifte in - dis goedkoper. Foto: Pixabay
As jy nie verlies is op die gevoel van glanspapier in jou hande nie, teken op die elektroniese weergawe van tydskrifte in - dis goedkoper. Foto: Pixabay

Planne word bespreek om die voortbestaan van Drum en TrueLove, twee welbekende leefstylpublikasies gemik op veral swart lesers, te probeer verseker.

Dít selfs al word beplan om hul huidige digitale tuiste, SNL24, te sluit.

Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, het Maandag gesê van die begin van gesprekke oor herstrukturering is "planne en voorstelle" ingesluit "vir die voortbestaan van dié twee handelsname, hoewel nie noodwendig in hul huidige formaat of platforms nie. Dit is baie duidelik in die konsultasie met die personeel gekommunikeer (so onlangs soos 24 Julie)."

Dit kom nadat BusinessLive Maandag geïmpliseer het die sluiting van Drum en TrueLove is geheim gehou omdat nie spesifiek na die titels verwys is in opmerkings oor die herstrukturering nie.

Dis dieselfde herstrukturering wat potensieel 'n einde gaan bring aan die gedrukte weergawe van Rapport, City Press, Beeld en Daily Sun en die verkoop van die verspreidingsafdeling On the Dot en Media24 se gemeenskapskoerante aan Novus.

Beriggewing hieroor op Moneyweb, BusinessLive en in Media24 se eie publikasies duur nou al 'n maand en 'n half voort. Tot 400 mense word moontlik daardeur geraak.

SNL24 huisves tans Daily Sun, KickOff, Soccer Laduma en sedert Maart 2023 ook die twee leefstylpublikasies. Drum was onder die tydskrifte wat Media24 in 2020, toe sirkulasie tydens die Covid-19-pandemie getuimel het, net digitaal begin uitgee het. TrueLove word nog gedruk.

"Die konsultasieproses sluit al die betrokke personeel in en dek sowel die rasionaal as besprekings van moontlike uitkomste," sê Davison.

"Soos al by verskeie geleenthede genoem, bly Media24 ten volle daartoe verbind om dié hoogs sensitiewe konsultasies met deernis te bestuur, terwyl ons ook die wetlik voorgeskrewe proses volg. Ons sal werklik poog om werkverliese - veral onder joernaliste - tot die minimum te beperk.

"Intussen kan ons geen verdere inligting oor die proses en die inhoud van konsultasies bekend maak, of kommentaar daarop lewer, alvorens dit afgehandel is nie."

Daarby het Media24 gesê as daar 'n ernstige aanbod op die tafel kom vir Beeld, sal dit oorweeg word.

Rapport en City Press is nie te koop nie omdat die plan is om dié handelsname op Sondae op onderskeidelik Netwerk24 en News24 te laat voortleef.

Caxton, 'n mededinger van Media24, het onlangs in 'n brief aangebied om al die titels en On the Dot te koop, maar Media24 sê die transaksie met Novus is reeds beklink. Dit moet net deur die Mededingingskommissie goedgekeur word.

Soccer Laduma word as titel ook aan Novus verkoop.

Media24 beoog om Daily Sun as 'n gratis nuuswebwerf te laat voortleef.

• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM