Tegnuus

Minstens 90 onwettige dobbel-webwerwe in SA – en Google help nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Negentig aanlyn dobbelwebwerwe word onwettig in die land bedryf. Foto: Gallo Images
Negentig aanlyn dobbelwebwerwe word onwettig in die land bedryf. Foto: Gallo Images

Aanlyn dobbelary in Suid-Afrika blyk gewild te wees - nagenoeg 90 dobbelwebwerwe word onwettig in die land bedryf.

Pogings om 10 hiervan in die vorige boekjaar van Google se soekenjin te verwyder was tot dusver onsuksesvol.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het onlangs dié besonderhede in antwoord op 'n parlementêre vraag deur Songezo Zibi, Rise Msanzi-LP, bekend gemaak.

Zibi wou weet watter benadering die Nasionale Dobbelraad volg om onwettige dobbelwebwerwe te identifiseer, en hoeveel daarvan die afgelope vyf jaar geblokkeer en deur Google verwyder is.

Huidige syfers op die databasis van die Dobbelraad dui volgens Tau op 90 onwettige dobbelwebwerwe. Hulle is oorsee geregistreer en gelisensieer in jurisdiksies soos Curaçao, Gibraltar, Malta en Brittanje.

‘Geen onwettige webwerwe verwyder'

Die proses wat die Nasionale Dobbelraad volg om onwettige webwerwe te blokkeer, behels volgens Tau skakeling met verskeie belanghebbendes wat verantwoordelik is vir die voorsiening van die platform vir die webwerf om in Suid-Afrika bedrywig te wees. Die raad skakel nie regstreeks met die operateurs van die onwettige webwerwe nie.

In die 2024-'25-boekjaar het die Nasionale Dobbelraad 10 webwerwe na Google Africa verwys om van die soekenjin verwyder te word. "Geen van die webwerwe is tot op hede van die soekenjin verwyder nie," lui Tau se antwoord.

Die raad het met Google Suid-Afrika oor die kwessie geskakel.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, is gefrustreerd met Google se traagheid om onwettige dobbelwebwerwe van die soekenjin te verwyder. Foto: Gallo Images
Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, is gefrustreerd met Google se traagheid om onwettige dobbelwebwerwe van die soekenjin te verwyder. Foto: Gallo Images

Uitdagings

Twee amptenare is deur die Dobbelraad aangewys om die uitdagings met onwettige dobbelwebwerwe te hanteer. 'n Bedrag van R596 000 is ook deur die raad beskikbaar gestel vir die identifisering van dié onwettige webwerwe.

Volgens inligting wat deur die Dobbelraad aan Tau verskaf is, word onwettige dobbelwebwerwe geïdentifiseer deur op inligting van derde partye staat te maak. Dit sluit onder meer in wanneer onwettige wengeld deur derde partye gekonfiskeer word.

Ander maniere is deur klagtes wat die Dobbelraad van die publiek ontvang deur middel van 'n toegewyde e-posadres en 'n bedrogblitslyn. Die raad stel dan by die relevante provinsie vas of 'n dobbeloperateur daar geregistreer is. In die geval waar die operateur buite Suid-Afrika geregistreer is, word die operateur as onwettig beskou.

Statistieke

Byna twee uit drie volwasse Suid-Afrikaners (65,7%) het in 2023 gedobbel, teenoor net 30,6% in 2017, blyk dit uit die 2023-'24-jaarverslag van die Nasionale Dobbelraad. Suid-Afrikaners het in 2023 nagenoeg R1100miljard uitgedobbel. Dit is 'n 40%-styging teenoor die vorige boekjaar.

Operateurs se inkomste nadat wengeld uitbetaal is, was R59 miljard - 'n styging van 25% teenoor die vorige jaar.

LEES OOK | SA se dobbelbedryf 'n wegholtrein: Weet wenners werklik wanneer om te stop?

Caroline Kangwa, uitvoerende hoof van die Nasionale Dobbelraad, skryf in die jaarverslag die grootste uitdagings wat in die boekjaar met die regulering van dobbelary ondervind is, het verband gehou met die skuif in die dobbellandskap. Dié skuif is hoofsaaklik toegeskryf aan die beduidende toename in die voorkoms van dobbelary, skuiwe in die voorkeur van dobbelary vanaf casino's na weddery, asook groter toegang tot aanlyn dobbelary ná die pandemie.

Tegnologiese vooruitgang is volgens Kangwa hoofsaaklik agter dié skuif, wat gelei het tot 'n opwelling in aanlyn dobbelary, wat tans verbode is in Suid-Afrika, met die uitsondering van sportweddenskappe en perdewedrenne.

"Onwettige aanlyn dobbelary deur verbruikers en operateurs het dus toegeneem. Onbeheerde advertensies van dobbelary op sosiale media, openbare plekke soos lughawens, taxi's en busse sowel as groot advertensieborde het die voorkoms van onwettige en aanlyn dobbelary vererger," sê Kangwa.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM