Tegnuus

Musk stel ‘slimste KI tot nog toe’ bekend

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Elon Musk, stigter van xAI en eienaar van die sosiale mediaplatform X.  Foto: Getty
Elon Musk, stigter van xAI en eienaar van die sosiale mediaplatform X. Foto: Getty

Elon Musk het Dinsdagoggend sy kletsbot Grok-3 bekend gestel, wat met kunsmatige intelligensie (KI) werk - en volgens hom is dit die slimste KI tot nog toe.

Grok-3 vaar volgens xAI, wat deur Musk gestig is en die app ontwikkel het, beter as Google se Gemini, DeepSeek se V3-model en OpenAI se ChatGPT-4o volgens wiskundige, wetenskaplike en koderingmaatstawwe.

"Die missie van xAI en Grok is om die heelal te verstaan. Waar is die ruimtewesens, wat is die betekenis van die lewe? Hoe gaan die heelal eindig? Hoe het dit begin?" het Musk in die voorlegging oor Grok-3 gesê.

"Ons word gedryf deur nuuskierigheid, die aard van die heelal. Dít is waarom ons 'n maksimale waarheidsoekende KI het, selfs al is die waarheid in stryd met wat polities korrek is."

Elon Musk het dié plakkaat van Grok op X geplaas. Foto: X/Elon Musk
Elon Musk het dié plakkaat van Grok op X geplaas. Foto: X/Elon Musk

KI vir die mensdom

Die woord Grok kom uit 'n Robert A. Heinlein-roman, Stranger in a Strange Land, en dit word gebruik deur 'n man wat op Mars grootgeword het.

"Grok beteken om iets ten volle en die diepte van iets te verstaan," het Musk gesê.

Hy sê dit is belangrik om 'n KI te ontwikkel wat die mensdom liefhet en die beste belange van die mensdom voorop sal stel.

Dít nadat Musk verlede week in 'n verklaring gesê het OpenAI moet terugkeer na 'n fokus om openbare belange te bevorder en om nie net wins na te streef nie.

LEES OOK | Musk se aanbod van byna $100 miljard vir OpenAI van die hand gewys

In dieselfde week was daar ook 'n internasionale KI-konferensie in Parys, Frankryk, oor die veiligheid van KI en dat dit "oop, inklusief, deursigtig, eties, veilig en betroubaar moet wees". Dit moet ook "volhoubaar vir mense en die planeet wees".

Amerika en Brittanje, van die voorste lande vir KI-ontwikkeling, het nie die verklaring van die konferensie onderteken nie.

LEES OOK | SA onderteken nie KI-verklaring, ‘want hy is net waarnemer op beraad'

Die Grok-app. Foto: Getty Images
Die Grok-app. Foto: Getty Images

https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/tegnuus/sa-onderteken-nie-ki-verklaring-want-hy-is-net-waarnemer-op-beraad-20250212

Wat nog?

xAI het 'n nuwe slim soekenjin genaamd DeepSearch met Grok-3 bekend gestel.

DeepSearch is 'n redenerende kletsbot wat sy proses en reaksie verduidelik om 'n navraag te verstaan. Dit sluit navorsing, dinkskrums en data-analise in.

Grok-3 het ook sy eie stem en 'n mens sal binnekort met hom kan praat en letterlik hoor wat hy te sê het.

Die KI-uitvindsels hou egter nie daar op nie. Musk het in die voorlegging genoem xAI gaan binnekort 'n KI-speletjie-ateljee bekend stel.

Beskikbaarheid

Grok-2 is tans beskikbaar op die X-app in Suid-Afrika, terwyl Grok-3 vir Premium+-intekenare op X beskikbaar is.

Die vroeë toegang tot die Grok-app is tans vol, maar nog ruimte sal moontlik later beskikbaar word.

Die maatskappy beplan om 'n subskripsie genaamd SuperGrok te skep vir die kletsbot se app en webwerf.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM