Naspers se aandeelprys het Maandagoggend met tot 3% gestyg nadat die groep bekend gemaak het sy inkomste en wins het stewig toegeneem.
Op plaaslike front het die Takealot-groep aangedui Temu, Shein en Amazon maak die wêreld al hoe warmer. Mr D, een van die groot ondernemings in die Takealot-groep, is egter vir die eerste keer in 'n boekjaar winsgewend.
Naspers het sowat $8 miljard (nagenoeg R145 miljard) beskikbaar om te belê, maar die volgende groot geleentheid blyk moeilik te wees om te vind, veral in die huidige makro-ekonomiese klimaat. Die groep gee toe dat nie al sy beleggings van die laaste paar jaar baie goed gevaar het nie.
Naspers en Prosus, die Europese kloon wat sy primêre notering op die Euronext-beurs in Amsterdam het, het Maandag in sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart bekend gemaak sy inkomste het met 8% tot $6,4 miljard gegroei. In die geldeenhede waarin die inkomste verdien is, het dit met 17% gegroei.
Die hoogtepunt van die resultate is dat e-handel as geheel in die ses maande van September tot Maart winsgewend geword het. Dis ses maande vroeër as Naspers se mikpunt dat dit teen September 2024 behaal moet word.
E-handel se handelswins het $24 miljoen (sowat R434 miljoen) beloop. Dit was teenoor verlede jaar se verlies van $435 miljoen (sowat R7,8 miljard).
Die toppresteerders vir die groep die afgelope jaar was die geklassifiseerde onderneming OLX en die kosafleweringsdiens iFood.
Dis juis Fabricio Bloisi, die hoof van iFood, wat in Julie oorneem as Naspers en Prosus se nuwe uitvoerende hoof. Die groep se beleggingshoof, Ervin Tu, het sedert September in die pos waargeneem ná die bedanking van Bob van Dijk, wat 10 jaar in die pos was.
Die groep se kernwesensverdienste, die maatskappy se gekose maatstaf van nabelaste wins, het met 88% (113% in plaaslike geldeenhede) tot $2,1 miljard (byna R38 miljard) gestyg.
Beleggings
Die afgelope jaar het Naspers en Prosus beleggings van slegs $571 miljoen gedoen, vergeleke met die hoogtepunt van $6,4 miljard in 2022. Dis omdat die groep "dissipline in 'n uitdagende beleggingslandskap" handhaaf.
"Histories het die groep 'n mate van beleggingsukses oor 'n volgehoue tydperk behaal. Maar die afgelope twee jaar was ons interne opbrengskoers ver onder die teiken. Stappe is gedoen om uit ons foute te leer en dié onderprestasie op te los, insluitend om meer aktief betrokke te wees by ons groot bedryfsmaatskappye en -beleggings, ons organisasie as geheel platter te maak om nader aan ons ondernemings te kom, en ons beleggingspan, -prosesse en -aansporings te herontwerp."
Aandele-terugkoopplan
Naspers se aandele-terugkoopprogram, wat in Junie 2022 begin is, het die vrylik verhandelbare aandele al met 21% verminder en volgens die maatskappy $30 miljard se waarde vir aandeelhouers geskep. Die opbrengs per aandeel, en potensieel die dividend, verhoog op dié manier.
Die diskonto op Naspers en Prosus se aandeelprys het met sowat 21 persentasiepunte verminder. Dié diskonto verteenwoordig die verskil tussen die netto batewaarde van alle ondernemings in die groep en die aandeelprys en is 'n dilemma wat Naspers nou al jare lank probeer oplos.
Prosus se netto batewaarde het van 2022 tot Maart 2024 met 9,4% toegeneem danksy die aandele-terugkoopplan.
Naspers en Prosus bly daartoe verbind om met dié program voort te gaan.
Segmentele prestasie
Naspers doen in vyf segmente verslag: e-handel (wat kosaflewering en geklassifiseerde advertensies insluit), finansiële tegnologie, opvoedkundige tegnologie, e-kleinhandel en die media.
E-HANDEL
Die inkomste uit e-handel uit voortgesette bedrywighede het met 9% tot $6,3 miljard gegroei.
Kosaflewering
• iFood
Die Brasiliaanse kosafleweringsfirma iFood gaan van krag tot krag. Die groep se kernbesigheid - die aflewering van restaurantkos - het sy wins met $166 miljoen verhoog. Dit vorder ook met die aflewering van kruideniersware, lenings en koopbewyse vir etes.
Prosus besit iFood ten volle.
Die bruto waarde van handelsware wat afgelewer is (GMV), die maatstaf vir afleweraars, het met 20% gegroei. Die onderneming het 56 miljoen aktiewe gebruikers per jaar en sowat 22 miljoen unieke gebruikers per maand. Die groep doen sake in 1 530 stede in Brasilië, met meer as 350 000 restaurante en 313 000 drywers.
iFood se inkomste in die reaal het met 22% opgeskiet en handelswins met 248%.
Talle "donker kombuise" wat as restaurante op die iFood-app gelys word, maar net kos vir aflewering maak, is in kruidenierswarewinkels omskep soos die onderneming sy aflewering uitbrei.
• Delivery Hero
Delivery Hero, wat veral in Europa en Suidoos-Asië sake doen, het sy DMV met 6% gegroei vir die jaar tot einde Desember. Sy inkomste is 16% hoër. Prosus besit 29,3% van Delivery Hero.
• Swiggy
Die Indiese kosafleweringsonderneming, waarin Prosus 32,6% besit, kon sy inkomste met 24% lig. Die onderneming bestaan nou al 10 jaar en het nou 104 miljoen gebruikers en 387 000 afleweringsvennote.
Geklassifiseerde advertensies
OLX, Prosus se afdeling vir geklassifiseerde advertensies, kon sy gekonsolideerde inkomste met 36% tot $707 miljoen lig. Interessant genoeg het verkope in Oekraïne tot vlakke voor die Russiese inval gestyg.
Die meeste OLX Autos wêreldwyd is nou gesluit. Dié ondernemings het veral tydens die Covid-19-pandemie begin swaar trek.
BETALINGS EN FINANSIëLE TEGNOLOGIE
PayU se inkomste het met 22% verhoog, grootliks danksy die betalingsdiens in Turkye en Indië en die verskaffing van krediet in Indië. In Indië het PayU uitgebrei om ook lenings aan klein ondernemings te verskaf. Strenger regulasies wat deur die Reserwebank van Indië opgelê is, het die uitreiking van lenings laat verlangsaam.
OPVOEDKUNDIGE TEGNOLOGIE
Naspers sê die aanvaarding van kunsmatige intelligensie (KI) sowel as uitdagende makro-ekonomiese toestande het van die ondernemings in opvoedkundige tegnologie swaar getref, veral Stack Overflow. Stack Overflow is 'n subskripsiediens waarop rekenaarprogrammeerders antwoorde op hul vrae kan kry. Die onderneming gebruik nou Prosus se eie KI-gereedskap om meer mededingend te probeer word.
Prosus besit ook 'n belang in GoodHabitz en Skillsoft, wat albei aanlyn kursusse vir werknemers aanbied. Dié ondernemings het nie waffers gevaar nie.
Prosus het die billike waarde van Byju, 'n Indiese onderneming wat lesse vir skoolkinders aanbied, afgeskryf. Sedert 2018 het Prosus nagenoeg $500 miljoen in Byju belê vir 'n belang van 9,6%.
E-KLEINHANDEL
E-kleinhandel se gekonsolideerde inkomste is 10% hoër op $3 miljard. Dié afdeling lei steeds 'n handelsverlies van $49 miljoen, maar Naspers glo dis op koers na winsgewendheid.
Die Oos-Europese onderneming eMAG, wat soortgelyk is aan Takealot in Suid-Afrika, het sy inkomste met 14% verhoog. Die onderneming lewer nou ook kos af.
• Takealot
Die Takealot-groep, wat ook Mr D en Superbalist besit, kon sy GMV met 3% verhoog en sy inkomste in rand met 8%.
Volgens die groep lyk dit asof mense nou weer meer gereeld winkel toe gaan, soos voor die Covid-19-pandemie, en die druk op verbruikers weens die hoë rentekoers en inflasie help nie.
Nietemin kon Takealot die bruto waarde van handelsware wat afgelewer is (GMV) met 3% verhoog en sy inkomste in rand met 8%.
"Genormaliseerde verbruikersgedrag ná die pandemie en 'n uitdagende verbruikersomgewing, aangedryf deur die hoër rentekoers en hoë inflasie, het heeljaar gegeld. Daar was ook toenemende fragmentering soos mededingers swaar belê het in e-handelvermoë. Temu en Shein het ingedring in die Suid-Afrikaanse mark en die onlangse koms van Amazon sal mededinging verder vererger."
Takealot.com se handelsverlies het met $4 miljoen (sowat R72 miljoen) verminder. Daar is meer as 10 000 aktiewe verkopers op die platform.
Mr D se GMV het met 16% opgeskiet en is nou vir die eerste keer winsgewend, met 'n handelswins van $3 miljoen (sowat R54,2 miljoen)
• Tencent
Die Chinese tegnologiereus Tencent se inkomste het in die boekjaar tot einde Desember met 10% gestyg.
Inkomste uit internasionale speletjies het veral goed gestyg, asook advertensie-inkomste op video-platforms en soekenjins.
Die maandelikse aktiewe gebruikers op die kletsdienste Weixin en WeChat het met 2% tot 1,34 miljard gestyg en mense bestee al hoe meer tyd op Weixin danksy kortvideo's op die platform.
MEDIA
Naspers noem slegs in sy syfers dat media - wat Media24 verteenwoordig - 'n gekonsolideerde bedryfswins van sowat $3 miljoen (nagenoeg R53 miljoen) behaal het. Media24 se resultate word nie afsonderlik uitgereik nie.
• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n filiaal van Naspers.






















