Tegnuus

Novus-transaksie: Caxton vra uitsluitsel oor grondwetlike implikasies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rolpers druk koerante.
Rolpers druk koerante.

Hoewel die laaste Beeld, Rapport en City Press in gedrukte formaat reeds in Desember versprei is, duur die hofstryd oor die einde van die gedrukte era vir dié publikasies voort.

Capital Newspapers en Caxton het aansoek gedoen om verlof tot appèl na die konstitusionele hof teen Media24 se verkoop van die logistiekonderneming On the Dot en sy gemeenskapskoerante aan die genoteerde drukkery Novus.

Capital Newspapers en Caxton voer aan die sluiting van die gedrukte koerante plaas druk op die hele medialandskap, tot nadeel van spraak- en persvryheid. Capital Newspapers gee die Witness en vyf ander gemeenskapskoerante in KwaZulu-Natal uit. Die genoteerde Caxton besit 45% van Capital.

Die jongste hofaansoek kom nadat die Mededingingstribunaal in Oktober verlede jaar bevind het die verkryging hou geen risiko vir mededinging in nie. Capital en Caxton se aansoek vir 'n interdik teen die inwerkingstelling van die verkryging het in die mededingingsappèlhof misluk. Dié hof se uitspraak ten gunste van Media24 is op 24 Desember gelewer.

In hofstukke voor dié hof het Capital en Caxton aangevoer die einde van die drukuitgawes is 'n logiese uitvloeisel van die verkryging van On the Dot deur Novus. Die firmas sê die Mededingingstribunaal het nie die grondwetlike implikasies hiervan behoorlik in ag geneem nie.

Media24 voer in hofstukke aan die einde van die gedrukte era was onafwendbaar en hou nie regstreeks met die verkryging verband nie. Dis nodig vanweë die veranderende gewoontes van lesers en die hoë koste van druk- en verspreidingswerk.

Die mededingingsappèlhof het nie die konstitusionele vraagstuk oor spraakvryheid in groot besonderhede ontleed nie. In die uitspraak verwys regters Lister Nuku en Namhla Siwendu kortliks na die Caxton-argument dat veral arm mense op die platteland benadeel gaan word omdat hulle nie toegang tot digitale media het nie. Media24 het data voorgelê wat toon digitale media is eintlik goedkoper as gedrukte media.

Dis nou dié argumente wat ondersoek sal moet word indien die appèl na die konstitusionele hof slaag, maar ook die hele vraag of die verkryging wél alles deel uitmaak van die herstrukturering van die druktitels en dus as geheel deur die Mededingingskommissie oorweeg moes word.

Raj Lalbahadur, tussentydse uitvoerende hoof van Media24, sê Media24 dra kennis van die aansoek. "Ons regspan bestudeer tans dié aansoek om verlof tot appèl. Media24 gaan nie op openbare platforms kommentaar lewer op die mening van die ander partye of die detail van hul aansoek nie."

Paul Jenkins, voorsitter van Caxton, het aan Moneyweb gesê: "Die sluiting van die Media24-koerante is 'n kritieke moment vir joernalistiek in die land. Ons glo 'n ander regsinterpretasie sal dalk 'n ander uitkoms oplewer."

• Beeld het steeds 'n landingsblad op Netwerk24. Rapport as handelsnaam leef voort op Netwerk24 en City Press op News24. Daily Sun, wat ook nie meer in druk verskyn nie, het nou sy eie webwerf. Geen joernaliste van die betrokke publikasies is afgelê nie.

• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM