Die reuse-tegnologiegroep Nvidia het as die grootste wenner wat markwaarde betref in 2024 na vore getree.
Dit word toegeskryf aan die groot belangstelling in kunsmatige intelligensie en die vraag na die mikroskyfies wat die maatskappy ontwikkel wat daarvoor benodig word.
Sy markwaarde het met meer as $2 000 miljard gestyg.
Die markwaarde is die waarde van al sy uitgereikte aandele gegrond op sy aandeelprys.

Die meeste lande in die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) is nie eens so groot nie.
Einde 2023 was Nvidia se markwaarde $1 200 miljard, en dit het einde 2024 tot $3 280 miljard gestyg.
Dit het sedertdien Donderdag en Vrydag tot $3 540 miljard toegeneem.

Apple se markwaarde was jaareinde steeds die grootste in die wêreld - bykans $4 000 miljard. Die styging in Apple se markwaarde is aangedryf deur beleggers se entoesiasme vir die maatskappy se verwagte vordering met kunsmatige intelligensie, wat daarop gerig is om die flou verkope van die iPhone te herstel.
Apple se markwaarde is groter as die waarde van die totale aandelemark van Kanada, Frankryk en Brittanje - wat Wikipedia toon as die markte wat die sesde, sewende en agtste grootste markwaarde ter wêreld het.
Einde 2024 het Microsoft die derde grootste markwaarde gehad van $3 100 miljard, gevolg deur Alphabet en Amazon, elkeen met sowat $2 300.

Die tegnologiemaatskappye het soos in 2023 weer in 2024 vir 'n beduidende styging in aandele-indekse gesorg. Die S&P 500 en Nasdaq het onderskeidelik met 23% en 28% gestyg.
Ten spyte van die aandele se hoë waardasies, die dreigende spanning tussen Amerika en China oor invoertariewe en die moontlikheid dat rentekoerse in Amerika nie so vinnig verlaag gaan word nie, bly ontleders optimisties dat die sterk vertoning van dié tegnologiegroepe in 2025 voortgesit gaan word.
Daniel Ives van Wedbush Securities voorspel 'n styging van 25% in tegnologie-aandele in 2025. Hy grond dit op 'n minder gereguleerde omgewing onder die aangewese president, Donald Trump, en komende sterk inisiatiewe met kunsmatige intelligensie.
"Ons glo tegnologiemaatskappye gaan in 2025 nog sterk staan op die skouers van die revolusie met kunsmatige intelligensie en die $2 000 miljard se kapitaalbesteding wat in die komende drie jaar daaraan bestee gaan word." - Reuters, bygewerk
























