Daar is 'n versnellende stormloop oor die wêreld heen vir kunsmatige intelligensie (KI) - en dit verg enorme hoeveelhede data.
Datasentrums is kragintensief en van die grootste tegnologiemaatskappye het reeds begin om groenkrag in te span om dit ten minste deels aan te dryf.
Maar nou wil Oracle ook kernkrag inspan vir sy KI-datasentrums.
Oracle, die derde grootste sagtewaremaatskappy ter wêreld en 80ste grootste onderneming, het pas 'n boupermit bekom vir die bou van die grootste datasentrum tot nog toe: 'n reuse-aanleg wat 1 000 MW vereis.
Op Oracle se telefoniese vergadering met beleggers vandeesweek om die bekendstelling van sy resultate vir die eerste kwartaal van sy boekjaar te bespreek, is dié "bisarre" nuus aangekondig.
Lawrence Joseph Ellison, voorsitter en tegnologiehoof van Oracle, het aan beleggers gesê dis die opwindendste aankondiging wat hy tot nog toe gedoen het.
"Laat ek iets sê wat regtig bisar gaan klink," het Ellison luidens die transkripsie van die oproep gesê.
"Ja, julle sal seker sê, wel, hy sê heeltyd bisarre dinge - so hoekom kondig hy dié een aan? Maar kom ons wees nou regtig bisar.
"Ons is in die middel van die ontwerp van 'n datasentrum wat meer as 'n gigawatt (GW) elektrisiteit gaan benodig, en ons het die ligging en die kragoplossing gevind."
Met kragkrisisse wat in verskillende mates oor die wêreld heen posgevat het, is die reusekragverbruik van KI-datasentrums toenemend kommerwekkend, selfs omstrede.
"Ons het daarna gekyk - en nou reeds boupermitte gekry - vir drie kernreaktors om die datasentrum aan te dryf," sê Ellison toe.
"Dit gaan klein, modulêre kernreaktors wees.
En dit is hoe mal dinge nou raak. Dít is wat aangaan," het hy gespog.
Mark Murphy, ontleder wie aanvanklik gevra het oor KI en die nodige datasentrums wat Oracle bou, was verstom.
"Ongelooflik," is al wat hy uitgekry het voordat die volgende vraag gevra is.
'n Datasentrum wat 1 GW krag verg, is amper gelykstaande met die helfte van die hele Johannesburg-metro se kragbehoefte.
"Die wedloop om 'n beter en beter neurale netwerk (vir KI) te bou, duur vir ewig voort," sê Ellison.
"Die koste om (sulke KI-modelle) op te lei, word toenemend astronomies.
"As ek praat oor die bou van 'n gigawatt- of veelvoudige gigawatt-datasentrums, gaan die baanbrekende KI-modelle wat dit benodig en wat mededingend wil wees, 'n prys in die omgewing van $100 miljard beloop om te skep.
"Laat ek dit herhaal: sowat $100 miljard."





















