Tegnuus

Prosus wil miljarde in Europa belê – met klem op KI

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Fabricio Bloisi, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.  Foto: Prosus
Fabricio Bloisi, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Prosus

Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, sê Prosus het byna $20 miljard om te bestee en is gereed om in Europa uit te brei.

In vandag se randwaarde is dit sowat R371 miljard.

Prosus besit reeds 'n groot belang in Europese maatskappye, waaronder die kosafleweringsdiens Delivery Hero, wat in Duitsland genoteer is.

Die meeste transaksies die laaste paar maande was egter in historiese hoëgroeimarkte, soos die notering van Swiggy in Indië en die verkryging van 'n Brasiliaanse reisagentskap vir $1,7 miljard.

"Ons moet aansienlik meer hier in Europa belê in dié wedloop en moenie aanhou kyk na buitestanders nie," het Bloisi Donderdag op die Wêreld Ekonomiese Forum in 'n onderhoud met Bloomberg TV gesê.

"Ons ekostelsel in Europa is gereed om te groei en ons is gereed om te belê."

Bloisi beskryf dit as 'n "wekroep" vir Europa dat pres. Donald Trump van Amerika belowe het om sy land 'n "supermag" in kunsmatige intelligensie (KI) te maak.

Waar ons belê en waar ons wil groei, is in Europa, Indië, Latyns-Amerika, Afrika...

—  Fabricio Bloisi, Prosus-hoof

"Verlede jaar in Davos was die groot vraag: ‘Hoe kan ons keer dat ons te vinnig met KI beweeg?' Die Trump-administrasie het die narratief verskuif na: ‘Ons gaan vinniger beweeg as enigiemand anders.' "

Trump het die veiligheidsmaatreëls oor KI herroep wat oudpres. Joe Biden ingestel het. Hy het ook 'n gesamentlike onderneming vir KI-infrastruktuur aangekondig onder leiding van SoftBank, OpenAi en Oracle.

Prosus stel daarin belang om vennote te kry om in die infrastruktuur vir Europese KI te belê, sê Bloisi.

Naspers het in 2001 $34 miljoen vir 'n 50%-belang in Tencent betaal. Vandag besit Prosus sowat 25% van Tencent, waarvan die totale markwaarde sowat $450 miljard is.

"Prosus se spel is nie China nie," sê Bloisi. "Prosus se spel is as belanghouer in 'n Chinese maatskappy. Maar waar ons belê en waar ons wil groei, is in Europa, Indië, Latyns-Amerika, Afrika - en dis waar ons belê." - Bloomberg

• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM