Tegnuus

Regering gaan wéér datum misloop om analoog-TV af te sit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die regering gaan weer die spertyd om analoog-televisie af te skakel misloop omdat amper 'n halfmiljoen arm huishoudings steeds op hul gratis dekodeerder en installasie wag.

Die regering betaal tussen R130 en R160 miljoen per jaar vir gelyktydige uitsendings (simulcast) - die uitsaai van dieselfde analoog- en digitale seine. Foto: Reuters
Die regering betaal tussen R130 en R160 miljoen per jaar vir gelyktydige uitsendings (simulcast) - die uitsaai van dieselfde analoog- en digitale seine. Foto: Reuters

Alle analoog-seine was veronderstel om middernag op 31 Desember afgeskakel te word.

Intussen gaan die SAUK voort met sy plan om 'n satelliet-TV-diens te begin, wat belastingbetalers miljarde rande gaan kos, hoewel die departement van kommunikasie se toestemming nooit vir hierdie ambisieuse plan gevra is nie.

Dit stel die slagordes op vir 'n groot geveg tussen die uitsaaier en die seinverspreider Sentech.

Satelliet-TV, soortgelyk aan MultiChoice se DStv en eMedia se Openview, is deel van die SAUK se plan om die "vermiste middel"-kykersgroep met sy dekodeerder-plan te teiken.

Hierdie groep is die miljoene huishoudings wat nie vir die gratis stelboks (STB) kwalifiseer nie omdat hulle meer as R3 500 per maand verdien en 'n STB moet aankoop.

Hulle gaan ook hul TV- en radio-opvangs verloor as die regering finaal die analoogseine afskakel.

Suid-Afrika het in Junie 2015 die internasionale afsnydatum misgeloop waarop analoogseine afgesit moes gewees het en oorgeskakel word na digitale aardtelevisie (DTT).

Die regering het dié datum al byna 'n dekade telkens uitgeskuif. Dit het beteken dat die frekwensiespektrum nie vir ander doeleindes buiten TV-seine gebruik word nie. Selfoon- en internetdienste staan tou om groter toegang tot die frekwensiespektrum te bekom.

Die SAUK vra 'n verlenging en uitstel van die proses tot einde 2025.

Intussen vergaar die regering se verouderde STB's stof in geslote poskantore en Sentech-pakhuise. Sedert 2015 het die regering reeds meer as R12 miljard aan die digitalemigrasieproses bestee.

Die regering betaal boonop tussen R130 en R160 miljoen per jaar vir gelyktydige uitsendings (simulcast)- die uitsaai van dieselfde analoog- en digitale seine. Dit moet gebeur totdat 90% van huishoudings STB's het en 'n bepaalde sein afgesit kan word.

Geen geld is hiervoor vir 2025 begroot nie.

Die afgelope dekade is sowat R1,23 miljard betaal vir gelyktydige uitsendings en R10 miljard is aan die koop van STB's vir armes bestee.

Solly Malatsi, kommunikasieminister, het die afgelope week in die portefeuljekomitee in die parlement gesê dis duidelik dat die afsnydatum van 31 Desember wéér uitgestel sal moet word.

Volgens die departement is dit onmoontlik om oor die volgende maand 469 000 arm huishoudings se STB's af te lewer en te installeer. Boonop is daar hope onvolledige adresse, selfoonnommers wat verander het en mense op die databasis wat van vooraf opgespoor moet word.

Gesamentlik verteenwoordig dié huishoudings miljoene kykers. Daarbenewens moet nog miljoene huishoudings 'n STB koop - iets wat nie in die kleinhandel beskikbaar is nie - of selfs meer betaal om 'n dekodeerder soos DStv of Openview te koop.

Die SAUK vra 'n verlenging en uitstel van die proses tot einde 2025.

Syfers

Jorja Wilkins, eMedia-woordvoerder, wou nie sê vir watter uitstelperiode e.tv vra nie. In Julie het Khalik Sherrif, eMedia-hoof, gesê daar is nog 4,3 miljoen huishoudings wat van analoogseine afhanklik is. Hy het gesê eMedia steun die afskakel van analoogseine, maar nie die 31 Desember-afsnydatum nie.

Aan die einde van Oktober is 21 uit die oorblywende 195 analoogsenders landwyd afgeskakel met 174 oor wat in Desember afgeskakel moes word.

Dié 174 is almal in vier provinsies: KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Gauteng. Gesamentlik verteenwoordig die oorblywende vier provinsies meer as 50% van die land se bevolking en TV-kykers.

As hulle afgesny word sonder dat hulle oorgeskakel het, sal dit die SAUK wat kyksyfers en advertensie-inkomste betref, totaal ruïneer.

Hoewel MultiChoice oor die afgelope jaar 1,8 miljoen DStv-intekenare verloor het, beskou die SAUK nou satelliet-TV as deel van die uitsaaier se toekoms.

Nomsa Chabeli, SAUK-hoof, het in die vergadering gesê die uitsaaier glo daar is miljoene "vermiste middel"-kykers wat nie arm genoeg is om 'n gratis-STB te kry nie en ook nie DStv kan bekostig nie, maar eenmalig vir 'n satelliet-dekodeerder kan betaal om dan verniet die SAUK se TV- en radiokanale te kry.

Dis regtig 'n ongeëwenaarde ramp.

—  Khusela Diko

Die SAUK-dekodeerders sal deur Wi-Fi aan die internet kan koppel en daardeur ook toegang tot die SABC+-stroomdiens gee.

Die SAUK sê hy het nie die departement se toestemming vir die uitreik van 'n tender en die begin van 'n satelliet-TV-diens gevra nie omdat dit onder die uitsaaier se strategie van "digitale vernuwing" val, wat wel goedgekeur is.

Die SAUK het geen marknavorsing vir sy satelliet-TV-diens gedoen nie, maar sê die 11 miljoen kykers van DStv en Openview toon daar is moontlik nog miljoene verbruikers wat, soos met Openview, eenmalig vir 'n dekodeerder en skottel sal betaal.

Oor die wanbestuurde digitalemigrasieproses het die ANC se Khusela Diko en komiteevoorsitter gesê "dis regtig 'n ongeëwenaarde ramp".

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM