Tegnuus

Só styg DStv se tariewe op 1 April

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
DStv se voorland is nie rooskleurig nie. Foto: Unsplash
DStv se voorland is nie rooskleurig nie. Foto: Unsplash

Mense met DStv Premium sal volgende maand R50 meer moet opdok vir dié pakket.

Die styging, van 5,4%, bring die koste van die toppakket op R979 per maand te staan, waarby toegangsgeld nog gevoeg moet word. Dit sluit Showmax in.

Intekenare van die alleenstaande Showmax-stromingsdiens sal egter verlig wees om te hoor die prys bly onveranderd op R99 per maand.

DStv Stream bly ook onveranderd; dit het 'n verskeidenheid tariewe.

MultiChoice het verhogings van tussen 2,1% en 6,5% in sy tariewe aangekondig, met DStv Compact Plus wat die grootste persentasiestyging beleef. Dit word R40 duurder tot R659.

Die maatskappy waarsku dat die tariewe dalk op 1 Mei weer effens gaan styg indien die tesourie se voorstel vir 'n verhoging van 'n halwe persentasiepunt in belasting op toegevoegde waarde (BTW) van krag word. Die DStv- en Showmax-tariewe sluit BTW in.

Om flieks by jou pakket te voeg as dit nie flieks bevat nie, word goedkoper, van R79 tot R49 per maand.

DStv het verlede week aangekondig intekenare op Premium, Compact Plus en Compact kan nou twee toestelle gelyktydig stroom.

Nuwe kanale word ook bygevoeg op die meeste pakkette.

MultiChoice moedig intekenare aan om kontrakte van twee jaar te oorweeg aangesien hulle só heelwat sal bespaar.

• Die grafika is ná publikasie aangepas omdat MultiChoice regstellings aangebring het aan die laaste drie van die Showmax-pakkette. Dis egter net 'n verskil van R1 en bring die tariewe op onderskeidelik R50, R120 en R150 te staan.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM