Google het €470 miljoen (nagenoeg R8,5 miljard) aan 'n groep Europese wolkmaatskappye aangebied in die hoop dat hulle sou volhou met 'n klag van teenmededingende gedrag teen Microsoft.
Dié aanbod sou Google toegang tot Microsoft se tegnologie gee. Dit sou 'n langtermynvennootskap insluit, met 'n kontantbydrae van €14 miljoen en €455 miljoen vir programmatuurlisensies oor vyf jaar.
Die CISPE, 'n vereniging van wolkdiensverskaffers in Europa, het voorheen 'n klag by die Europese Unie (EU) se mededingingsowerheid ingedien oor Microsoft se beleid met betrekking tot programmatuurlisensies vir sy Azure-wolkdienste. Die klag is dat Microsoft dit byna onmoontlik maak vir maatskappye om van wolkdiensverskaffer te verander omdat sy programmatuur net op Azure gebruik kan word.
Die klag is egter laat vaar nadat die CISPE 'n ooreenkoms met Microsoft bereik het wat regverdiger toegang tot die tegnologie van die Amerikaanse reus verseker.
Wolkdiensverskaffers sal Microsoft-apps en -dienste op Europese firmas se "wolke" kan verskaf.
Voor die bekendmaking van die ooreenkoms het Alphabet se filiaal Google 'n teenaanbod aan die CISPE gedoen om die EU-klag vol te hou - Google voer aan dis om billike mededinging te verseker.
Die aanbod het 'n pakket van €470 miljoen ingesluit, waarvan €455 miljoen bestem was vir programmatuurlisensies oor vyf jaar en 'n kontantbydrae van €14 miljoen.
Amazon Web Services (AWS) het €6 miljoen vir dieselfde doel belowe.
Ondanks dié aanbod het die CISPE se lede besluit om Microsoft se verbeterde aanbod te aanvaar. Dit weer 'n duur hofsaak teen Microsoft af.
Google se vorige kontantkoei, advertensies op sy soekenjin, is besig om volwasse te word en groei dus traer.
As Google, Amazon en Microsoft daaraan skuldig bevind word dat hulle teenmedingend optree, loop hulle 'n groot risiko: Boetes van tot 10% van hul wêreldwye verkope. Dit is die aansporing vir die vennootskappe met die CISPE.
'n Woordvoerder van Google het aan Bloomberg gesê dat die maatskappy nog altyd die beginsels van regverdige programmatuurlisensiëring ondersteun en dat hulle besig is om gesprekke te voer oor verdere moontlikhede van samewerking met die CISPE. Amazon het nie dadelik op 'n versoek om kommentaar gereageer nie.- Bloomberg, verwerk
























