"'n Wyse man kan meer uit 'n dwase vraag leer as uit 'n wyse antwoord." - Bruce Lee
16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgeweld skop weer vandag af.
Ek vra twee vrae. Wat van die ander 349 dae van die jaar en hoekom hanteer ons geslagsgeweld soos 'n geleentheid?
Dit is hierdie seisoenale reaksie teen geslagsgeweld wat tot die dood van soveel wesens lei. Maar aangesien ons nóú in die "geslagsgeweldseisoen" is, wil ek graag aandag vestig op werklikheid en waarheid.
Dié 16 Dae van Aktivisme dien as herdenking vir almal wat al hul lewe as gevolg hiervan verloor het en poog om mense oor die euwel op te voed.
Ter wille van bondigheid gaan ek klem lê op een statistiek, waarvolgens geslagsgeweld een vrou elke drie uur eis. Ek stel hierdie omrede dat ek probeer vaslê hoe 'n toekomstige pa (van 'n dogtertjie) dit regverdig om slegs 16 dae af te staan om teen die kwessie te veg as agt vroue per dag sterf en 2 920 per jaar hul lewe as gevolg hiervan verloor.
Teen die tyd dat hierdie 16 dae ons bereik óf jy jou dogtertjie teen die bure se seun wil beskerm, is dit te laat. Teen daardie tyd is die seun reeds gekompromitteer, want niemand het sy pa aanspreeklik gehou toe hy "skadelose seksistiese grappies" gemaak het nie.
Dit is nie my bedoeling om veel kollig op die statistieke te plaas nie, maar dit lyk asof die meeste mense van skok proaktief word as hierdie syfers voor hulle neergelê word.
Geslagsgeweld mag nie beperk word tot net vroue nie en kan nie ingeperk word tot net fisieke geweld nie.
Om hierdie argument te steun, wil ek graag die definisie van geslagsgeweld kortliks ontsyfer.
Geslagsgeweld mag nie beperk word tot net vroue nie en kan nie ingeperk word tot net fisieke geweld nie.
Die doel van hierdie 16 dae is eintlik om die kollig op die waarheid te skyn. Ek smeek die leser se toegeeflikheid om hierdie op 'n onsmaaklike manier te illustreer.
Daar is godsdienstige instellings wat glo om homoseksueel te wees, is verkeerd. Ek het geen begeerte om hierdie oortuigings of gelowe te kleineer nie, maar wil eerder 'n onderwerp behandel wat sy vesting in ons samelewing vind.
My probleem met sommige van hierdie instellings is dat hul hierdie oortuigings aan ander wil opdwing, en nie noodwendig uitdruklik nie. Dit kan ook gevind word in die eenvoudige "jy sal dié fase met gebed oorkom".
Verbeel jou iemand sê vir jou jy mag nie jouself wees nie. Ek - 'n heteroseksuele Christen - verstaan dat die Bybel spesifieke boodskappe oordra waaraan Christene hulself moet oorgee, maar as regstudent het ek begrip vir die feit dat elke person die reg het om te wees wie hulle is en om genoeg waardigheid gegun te word om daardie reg uit te oefen.
Ek is bewus van die kritiek wat op my pad gaan val, veral van my mede-Christene, maar my waardes vereis waarheid.
Ek is bewus van die kritiek wat op my pad gaan val, veral van my mede-Christene, maar my waardes vereis waarheid. As ons, aktiviste, gaan toelaat dat gewone, onskuldige mense se identiteit van hulle ontneem word, tree ons tevergeefs in 'n stryd wat jare lank sy fondasies vind in mense wat die sensitiewe onderwerpe ontduik.
As jy steeds nie oortuig is nie, is die vraag wat jy moet vra of daar werklik 'n verskil is tussen iemand wat ander met hulle kaal hande vermoor en iemand wat ander tot só 'n toestand van depressie dryf dat die person selfmoord as 'n ontsnappingsknoppie sien; al is die produk in albei gevalle dieselfde: dood.
Ek vra dat ons introspeksie doen oor hoe ons 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsweld beskou. Na my mening kan hierdie "geleentheid" as 'n beginpunt gebruik word om konsekwentheid in die geveg teen geslagsgeweld aan te moedig en nie iets wat nou en dan opduik omdat 'n almanak dit aan ons voorskryf nie.
Die tyd wat jy gebruik om 'n homoseksuele persoon te "korrigeer in liefde" is die tyd wat gebruik kan word om moontlike oortreders by jou Sondagmiddagbraai reg te help as hul daardie "skadelose seksistiese grappe" maak.
Dit is 'n werklikheid dat jy 'n homoseksuele of vroulike kind kan hê en teen die tyd dat jy besef dat hul wese en persoon ook gerespekteer moet word, moet jy dalk hul onthoofde lyf in 'n lykshuis identifiseer, vermoor deur dieselfde persoon wat by jou Sondagmiddagbraai was.
Die prentjie is morbied, maar daar is 365 dae in 'n jaar, nie 16 nie. Jou kind sterf dalk 'n dag voor dié 16 Dae van Aktivisme. Gebruik dié "geleentheid" om as jou Modafinil te dien teenoor geslagsgeweld.
- Atang studeer aan die Noordwes-Universiteit en sy passie is om 'n verskil te maak.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:
















