
Ek hardloop, want "ek wil sien dat vroue sonder vrees in die strate kan loop". Dit is 2021. Hoekom sê my "Women for Change"-beffie dat ek op Vrouedag vir vroue se veiligheid gaan hardloop?
Hoekom is my motivering vir hierdie spesifieke wedloop my eie vrees om om ons blok te gaan hardloop?
Ek vra weer, hoekom moet ek, 'n moderne vrou in 2021, ma en student steeds met trane in my oë mans smeek om asseblief op te hou om vroue te seksualiseer en opmerkings te maak as jy ons sien draf?
Laat ek hier stilstaan vir 'n oomblik. As jy voel die onderwerp is al holrug gery of as jy my dadelik wil brandmerk as net nog 'n feminis, dan is jy deel van die probleem.
Ek is nie 'n feminis nie. Dit is nie 'n geveg vir ekonomiese of politieke geslagsgelykheid nie. Ek wys slegs uit dat ons steeds op 'n plek is waar iets so eenvoudig soos basiese veiligheid vir vroue nie bestaan nie. En dit is uiters hartseer.
Ons is nie 'God's gift to men' om mee te maak wat hulle wil nie.
Ek is lief vir draf en met die reëls en regulasies van Covid-19 wat in plek is, draf ek meestal alleen. Die afgelope week was daar letterlik nie een enkele dag wat ek nie seksuele opmerkings moes aanhoor nie.
Mans wat sover gaan as om hul kar om te draai net om verby my te ry om 'n woord in te kry oor hoe ek lyk. Dit laat my nie net as vrou ongemaklik voel nie, maar dit laat my onveilig voel in die strate van my dorp - my huis.

Soos alle ander vroue maak ek seker ek voldoen aan alles op my lysie voordat ek uitgaan: my GPS-tracker is aan sodat my man my aanlyn kan volg; my klere is lank en bedek alles, ek verander my roetes daagliks; ek hardloop op verskillende tye en sê vir almal naastenby hoe lank ek gaan weg wees.
Ek doen soveel as wat ek kan (in die gegewe pandemie-omstandighede) om myself te beskerm, maar ek voel nooit veilig nie.
Vir elke ongevraagde opmerking van 'n man wat 'n vrou ongemaklik laat voel, word sy ontneem van haar basiese reg op veiligheid en sekerheid. Ons is nie besittings nie. Ons is nie "God's gift to men" om mee te maak wat hulle wil nie.
Om veilig te voel is my reg en om seker te maak jy doen niks om my onveilig te laat voel nie, is jou verantwoordelikheid.
In 2019 het pres. Cyril Ramaphosa in sy toespraak in 'n gesamentlike sitting van die parlement bevestig dat die getalle van geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika gelykstaande is aan dié van 'n land wat in oorlog is.
Sowat 2 700 vroue is daardie jaar dood aan die hand van 'n man en daar is minstens 100 verkragtings per dag aangemeld.
Geen vrou glo dat alle mans dieselfde is nie.
Die getalle styg jaarliks en dit maak my bitter bang. As jy sê 'n mens kan nie in vrees lewe nie of nie alle mans is dieselfde nie, verstaan jy nie die saak nie.
Geen vrou glo dat alle mans dieselfde is nie. Dis die stille kulturele beginsel dat dit aanvaarbaar is om kommentaar te lewer oor vroue se lywe wat ons bang maak.
Dit laat 'n mens wonder: Hoe kan ons 'n stap verder gaan en sê ons wil vroue as geleerde sakelui in 'n wêreld met geslagsgelykheid sien as die gewone vrou nie eens kan gaan draf sonder om bang te wees nie?
Dink aan die basiese konsep van Maslow se hiërargie. Ons kan nooit die piramide klim as die fondasie nie daar is nie.

Die vrou is sterk, goedhartig, sag en gevul met finesse. Ons kan die eerste stap doen om haar te beskerm deur te besef wat ons regte is, maar meer so wat ons verantwoordelikheid is. Wat doen jy op dié Vrouedag vir bewusmaking om by te dra tot 'n beter, veiliger Suid-Afrika vir jou vrou, ma, sussie of tannie?
So, dit is 2021 en ek staan steeds op vir my en my susters se veiligheid.
#WomenforChange
Ek het Maandag op Vrouedag die #WomenforChange virtuele wedloop voltooi, want geen vrou verdien om in vrees te lewe nie. Voor ons as Suid-Afrika 'n stap vorentoe kan gee op die gebied van geslagsgelykheid, moet ons eers besef solank as wat ons sê "I run because I want to see women walk the streets without fear", is ons as gemeenskap steeds besig om te faal.
- Charlene Brits is 'n eerstejaarstudent by die Oxbridge Academy en besig met 'n diploma in Educare (vroeë ontwikkelingsfase).
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volgs ons opInstagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:
















