Geagte meneer De Klerk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Timothy Nel Foto: Verskaf
Timothy Nel Foto: Verskaf

Ek sal jok as ek sê u dood gister het my onaangeraak gelaat. Ek het nou nie soos party mense gejubel of soos ander geween nie, maar u dood het die dink in my losgemaak . . . Vir drie spesifieke kampe was dit beslis makliker om uiting aan hul emosies oor u doodstyding te gee.

Diegene wat u as 'n held bestempel het, is natuurlik in rou gedompel. Diegene wat u as 'n volksverraaier ag, het soos gewoonlik gal gebraak op al wat 'n sosialemediaplatform is.

En diegene wat van mening is dat u daad op 2 Februarie 1990 nie vrywillig was nie, was - om die waarheid te sê - byna emosieloos.

Van kindsbeen af is ek geleer dat 'n mens nie sleg van die dooies praat nie. Maar ek is ook geleer om nie van my hart 'n moordkuil te maak nie, mnr. De Klerk. Ek het só baie om te sê, maar ek gaan dit kort hou aangesien u die afgelope 24 uur sekerlik baie briefies ontvang het. Almal wil hê dat hul briefies u moet bereik voordat u die "grafstienhemel", waarvan Peter Snyders geskryf het, binnegaan.

Mnr. De Klerk, ek sal nou nie soos party Suid-Afrikaners van blydskap oor u dood op u graf wil spring nie, maar ek sukkel om te begryp waarom en hoe sekere landgenote u as 'n morele boegbeeld kan beskryf.

Sien, mnr. De Klerk, dis totaal ongegrond dat demokrasie nie sonder u tot stand sou kom nie, en Tony Leon se onsensitiewe twiet wat sê dat u, soos Michail Gorbatsjof die stelsel wat u geërf het in 1990 hervorm het en dat Suid-Afrika vandag waarskynlik 'n tweede Sirië sou wees as u nie u mag in 1994 prysgegee het nie, is 'n infame leuen.

Ek wens dat ek vandag met vrymoedigheid kon sê dat u 'n dapper, visioenêre staatsman was toe u die bevrydingsbewegings op 2 Februarie 1990 ontban het. Maar ek kan nie. In die aanloop tot u aankondiging het die strop van internasionale isolasie, finansiële sanksies en druk van binne en buite die land merkbaar vernou.

Dit is daarom nie hiperbolies om te sê dat u geen ander keuse gehad het indien u die wit ekonomiese belange wou beskerm nie. U het besef dat die apartheidstaat se paraatheid bloot 'n illusie was en hom nie verder teen die swart mierbataljon kon verweer nie.

F.W. de Klerk
F.W. de Klerk (Jaco Marais)

Om te sê dat u nie die eerlikste man op aarde was nie, is 'n eufemisme, mnr. De Klerk. U het gesê dat dit eers ná die inhegtenisneming van genl. De Kock in Mei 1994 en die daaropvolgende getuienis voor die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) was dat u met omvattende bewyse gekonfronteer was dat u veiligheidsmagte aan wydverspreide menseregtevergrype aandadig was.

Dis natuurlik moeilik om te glo, mnr. De Klerk. U was vier en 'n half jaar lank president van die land, en veel langer deel van die kabinet. Maar u gooi dan toe u hande in die lug soos 'n wafferse ANC-kameraad voor die staatskapingskommissie met 'n ongeërgde ‘andiyazi'.

Mnr. De Klerk, die WVK-bewyse het bevestig dat u 90% van die sekerheidsgroepering se vergaderings bygewoon het. Op een so 'n vergadering is besluit dat twee swart onderwysers, wat as "opstokers" uitgekryt is, in Cradock in die Oos-Kaap "verwyder" moet word. Onthou u nog hul name, mnr. De Klerk? MATTHEW G-O-N-I-W-E. FORT C-A-L-A-T-A.

'n Onvoorwaardelike verskoning en skulderkenning dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom was, is al wat ons wou hê,

Onthou u hoe u versuim het om, wat u as "swart-op-swart-geweld" bestempel het, hok te slaan? U weermag en u polisie het die geweld in townships ná die ontbanning van die ANC en tydens die onderhandelingsproses aangewakker. Ongeveer 14 000 mense het in die vroeë 1990 in die townships gesterf, mnr. De Klerk. U polisiemagte het wapens na KwaZulu-Natal gestuur om Inkatha-impimpi's te bewapen. U onthou mos hoe topbeamptes in die polisie en weermag IVP-impimpi's as surrogaatmagte gebruik het om die ANC te verswak en sy steunbasis in die townships te destabiliseer?

Nee . . . ?

Wel, dan sal u seker onthou hoe u in 'n televisie-onderhoud voor miljoene mense gesê het dat hoewel baie mense gesterf het, meer mense as gevolg van sogenaamde "swart-op-swart geweld" as weens apartheid omgekom het?

Nee, ook nie?

Dit was juis u probleem, mnr. De Klerk. U het in algehele ontkenning geleef. Selfs in u laaste woorde, opgeneem op die video wat u stigting uitgereik het, beskryf u die pyn wat apartheid veroorsaak het, maar u gee steeds nie toe dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom was nie. Dit is daarom duidelik waarom u rol in die aftakeling van apartheid bevraagteken word, en waarom die meeste voorheen benadeelde Suid-Afrikaners weier om u finale verskoning sommer net te aanvaar.

Dit sou dalk makliker gewees het om u verskoning te aanvaar indien u aanspreeklikheid vir u rol aan 'n misdaad teen die mensdom erken het. U sou dalk ook kon ervaar hoe vergewensgesind Suid-Afrikaners eintlik kan wees, mnr. De Klerk.

'n Onvoorwaardelike verskoning en skulderkenning dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom was, is al wat ons wou hê, mnr. De Klerk. Want as daar vyf woorde is wat u nie kan sê nie, dan is dit: "Ek het nie geweet nie."

"Ek het nie geweet dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom is nie."

Ons besef maar al te goed dat u opgevoed was met apartheid se dogma van rasse-meerderwaardigheid en die voortdurende soeke na Bybelse regverdiging daarvoor. Dit was klaarblyklik ook vir u uiters swaar om 'n stelsel te veroordeel wat u tydens u kinderjare en in die grootste deel van u volwasse lewe gekoester het.

Nietemin, mnr. De Klerk, die menslike koste van apartheid is onmeetbaar. U en u bondgenote het lewens verpletter. Wetgewing soos die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet het gesinne uitmekaargebreek. Kinders het sonder vaders grootgeword, en vroue moes sukkel sonder hul mans. So, mnr. De Klerk, u mislukte Damaskus-oomblik laat my steeds koud teenoor u.

Indien u die laasgenoemde nie begryp nie, dan verstaan u ongelukkig nie werklik die pyn en trauma wat apartheid veroorsaak het nie.

  • Nel is 'n nagraadse regstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy korporatiewe finansies, bestuur en internasionale handelsreg studeer. Hy kom van Ebenhaeser in die Wes-Kaap.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Timothy Nel, Universiteit Van Wes-Kaapland

SPELETJIES VANDAG

CTA