Dis 'n vraag wat jou wakker hou in die aand. Ek dink in ons generasie is dit op almal se brein. Watter foute maak ek ten opsigte van liefde?
Wel, die eerste en enigste fout is dat ons dink ons weet waaroor alles gaan. Kom ons wees eerlik, die een ding wat ek sover van liefde (en die lewe) geleer het, is dat niemand eintlik weet wat hulle doen nie.
Ons het hierdie prentjie van hoe liefde lyk. Of dit nou deur sosiale media, flieks of jou vriende se stories is. Een van die dinge wat ek dink ons generasie verkeerd doen is ons dink ons is almal se pasmaat. Ek het al verhoudings beleef waar ek kon sien die ou is nie die regte pasmaat vir die meisie nie, en andersom, maar in ons kop is ons veronderstel om perfek te wees vir daardie person.

Ek dink nie dit werk so nie. Die beste voorbeeld hiervan is as iemand sê sy of hy kry seconds, omdat iemand met hul eks uitgaan. Dit is nie seconds nie, julle was eenvoudig net nie pasmaats gewees nie.
Die oomblik dat jy na jouself kan kyk en besef jy is dalk nie die regte persoon vir jou wederhelfte nie, is die oomblik dat jy vinniger by jou beter helfte kan uitkom.
Ek kyk na die mense om my se verhoudings, hulle is van 21 tot 30 jaar oud. Baie van die mense vul mekaar vreeslik mooi aan, hulle groei saam en bou saam 'n toekoms.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, almal het ook slegte tye, maar op die ou end soek jy iemand saam met wie jy 'n toekoms kan bou.
Die fout is dat ons dink saam met jou sielsgenoot gaan alles maklik wees. Dit moet in harmonie wees, ja, maar dit gaan nie altyd maklik wees nie. Ons almal bly tog net mens. Elke liewe person op aarde het goeie tye en slegte tye, en almal kry in die een of ander stadium koue voete.
Dit is waar baie mense die fout maak en opgee, ek ingesluit. Jy dink dat wanneer dit nie goed gaan nie, is dit nie vir jou nie, en dit is nie waar nie.
In 'n verhouding is ons almal geneig om die ander persoon se gewoontes aan te leer, of dit nou toksiese gewoontes of klein goedjies is, ons almal verander in 'n verhouding.
Jy moet net iemand kry wat jou hand sal vat en die probleme wat jy het saam met jou wil oplos, en nie teen jou werk nie. Julle gaan moet saamwerk om 'n verhouding te laat werk.
Die laaste fout wat ek dink ons maak, is om te vinnig te spring van verhouding tot verhouding.
Waar genees jy in daardie proses? Waar vind jy weer jouself?
In 'n verhouding is ons almal geneig om die ander persoon se gewoontes aan te leer, of dit nou toksiese gewoontes of klein goedjies is, ons almal verander in 'n verhouding.
Ná 'n verhouding moet 'n mens eers weer jouself vind, jy kan nie dadelik weer van voor af begin saam met iemand en dieselfde foute maak met hulle nie (dalk het die verhouding geëindig oor jou eie rooi vlaggies).
Jy moet iewers net stop en kyk hoe jy alleen kan verbeter en daarna kan jy saam met iemand verder verbeter.
Terwyl ek hierdie meningstuk skryf, besef ek dat ek een van die grootste foute ten opsigte van liefde maak, en dit is: Ek dink op 22 dat ek weet waaroor die liefde gaan. Ons moet onthou dat die lewe en die liefde 'n konstante leerproses is. Ek dink daar is dalk 'n handjievol mense wat werklik weet waaroor dit gaan. Ek hoop net ek is op die regte pad.
- Moriah studeer BCom (bemarking) aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Sy bly in Hartenbos.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

















