Grootste les van 2021: Aanvaarding

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
DF LuttigFoto: Verskaf
DF LuttigFoto: Verskaf

Dit is nie per toeval, dat ek ondanks my volle inentingskursus vir die tweede jaar in 'n ry die Desember-vakansie ingaan met 'n positiewe Covid-toets nie.

Covid-19 het ons aangepor, en plek-plek selfs gedwing, om nuwe lesse te leer en tot nuwe perspektiewe te kom.

Die geykte gesegde van die "nuwe normaal" het 'n ieder en 'n elk se bewussyn deurdring, maar tog het ek, en baie ander, steeds ervaar hoe ons "veg" daarteen.

Die hoop dat dinge dalk sou terugkeer na omstandighede soos voor so twee jaar gelede, is dalk 'n verdedigingsmeganisme teen die moeilike tyd waarin ons ons bevind, aanwesig by meer van ons as wat ons wil voorgee.

Dit is uiteraard moeilik om te aanvaar dat die wêreld, en ons doen en late, so drasties kon verander binne so 'n kort tyd. Dus, vir my, iemand met Afrikanerbloed wat nie hou daarvan om stil te sit nie, hard werk, onverdraagsaam is teen onregverdigheid en altyd nuwe geleenthede aanpak met ywer, was aanvaarding van die nuwe era in die menslike geskiedenis 'n konsep wat eers onlangs daadwerklik by my begin posvat het.

Soos baie studente, het ek ook baie planne gehad en gefantaseer oor hoe my lewe moet uitdraai tydens my Meesters-studies, sowel op 'n persoonlike as professionele vlak.

En tóg het dinge ánders verloop, dikwels teen my grein. Anders as van my vriende, het ek nooit die tipiese gap-jaar gehad nie, en het net ná skool begin studeer, sielkunde-werksondervinding opgedoen, en toe weer verder studeer.

Vanweë my flukse werksetiek het ek aanvanklik gereken dit gaan vinnig en vlot verloop soos baie ander dinge in my lewe tot nou toe.

Tydens 2021 moes ek 'n soort sabbatsverlof neem om my navorsing te voltooi, wat 'n voorvereiste is voordat ek kan aangaan met my gemeenskapsjaar.

Vanweë my flukse werksetiek het ek aanvanklik gereken dit gaan vinnig en vlot verloop soos baie ander dinge in my lewe tot nou toe.

Maar, op 'n onverwagse manier, vind my gap-jaar toe plaas! En ek word uiteraard deur die lewe "teruggehou" om met sekere dinge te deal voordat ek kan aangaan. Dit voel kompleet soos 'n videospeletjie waar ek die een vlak se gevreesde boss moet verslaan voordat ek kan vorder tot die volgende area (lees, lewensfase).

'n Hengse hindernis. Maar tog 'n verootmoedigende ervaring.

Dit was aanvanklik geweldig moeilik om skielik in 'n situasie te funksioneer waar dinge nie volgens mý tyd gebeur nie. Prosesse buite my beheer het dikteer hoe en wanneer ek validering, vergoeding en vordering sou geniet.

As deel van ons studie, moes ons aspirant-sielkundiges ons eie persoonlike terapie ondergaan, en vir my is dit keer op keer bevestig dat die wêreld nie regverdig is nie, en dat ek vrede moes maak daarmee. Aanvaarding.

En dit het nie beteken dat 'n mens nie mag kwaad raak of veg daarteen nie, of dat mens net papbroekig moet sit en toekyk nie. Dit het wel 'n nuwe emosionele, volwasse insig vereis dat sommige deure toe is, en 'n mens maniere moet vind om rondom dit te navigeer.

Om 'n kreatiewe manier te soek oor hoe om die situasie op te los, of net bloot te verstaan, het gelei tot 'n gesonder psigiese toestand.

Dat dit nie altyd jou persoonlike hulpbronne werd is om die prosesse (of mense) 'n opstopper te probeer toedien nie. Vir my was die hele idee van "mindfulness" integraal om meer bewus te raak van hoe ek voel as ek hierdie struikelblokke ervaar wat my terughou, en hoe ek gemakliker kan wees om dit nie noodwendig te wil aanvat, en daarteen te probeer baklei nie.

Om 'n kreatiewe manier te soek oor hoe om die situasie op te los, of net bloot te verstaan, het gelei tot 'n gesonder psigiese toestand. Want soms is daar nie altyd dadelik antwoorde vir hoekom dinge nie uitwerk soos wat jy wil hê nie.

Verskeie jongmense wat ek deesdae teëkom, kook oor van frustrasie as hulle jou vertel hoe hulle sukkel met verskeie prosesse soos studies, werk, dienslewering, ensovoorts.

En ja, sure, ons moet plek maak vir die woede, maar tog bespeur ek 'n tikkie hulpeloos- en magteloosheid. En om so te voel, suck! Ek weet. Maar dit is grotendeels omdat ons nog nie by 'n punt is van aanvaarding oor die oorkoepelende prosesse van die samelewing wat tot in lengte van dae op dié maniere ons ongelukkig gaan vergesel nie. Om te doen wat 'n mens kan en meer 'n aanvaardingsuitkyk te kweek, help om weer jou outonomie terug te win.

Ek ag myself nie wys nie, alhoewel die afgelope twee jaar tydens die pandemie vir my kosbare lesse geleer het op 'n harde manier, wat dalk vir iemand anders ook waardevol kan wees. Dit is nie per toeval dat ek hierdie skryf tydens nóg 'n episode van beurtkrag nie.

Ten slotte sal ek altyd dit uitbasuin dat die Here se genade en planne vir my die rede is hoekom ek so 'n uitdagende jaar moes ervaar, deurmaak en dus 'n baie beter begrip kan hê van ware aanvaarding. Nie my tyd nie, maar Sy tyd. Liewe leser, tel jou seëninge en vind vrede in hierdie voortdurende proses.

Die bekende gebed van kalmte lui: "God, verleen mydie rustigheid om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, diewaagmoed om dit wat in my beheer is te verander, en die wysheid om die verskilte ken".

  • DF Luttig doen sy meestersgraad in kliniese sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy kom oorspronklik van die Vrystaat, maar is nou gevestig in Kaapstad.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Df Luttig, Uwk

SPELETJIES VANDAG

CTA