As ek nou 'n oomblik vat en terugdink oor hierdie jaar, flits die oomblikke verby soos iets uit een van daardie outydse flieks waar daar nie klank by is nie, maar net beelde.
Die beelde hardloop oor die skerm en jy weet nie regtig wat aangaan nie. Wel, ek dink dis hoe baie van ons ook voel oor hierdie jaar.
Ons weet nie juis wat ons doen of waarheen ons op pad is nie en ewe skielik is dit Desember en ons staan al weer voor 'n nuwe jaar en al sy uitdagings . . . en die groot vraag is of volgende jaar enigsins anders gaan wees as die nuwe normaal wat ons tans ken.
Ek sou sê dat die grootste les wat ek vanjaar geleer het, is dat die lewe só kort is - baie korter as wat ons dink en wil besef.
Ons almal het daai lysie in ons kop van alles wat ons nog wil doen met ons eie tydlyn gekoppel aan daardie lysie. Vir my en ek dink baie van ons, is dit eintlik 'n "ek wil nog"- en die "eendag nog"-lysie. Ek wil nog oorsee gaan, ek wil nog Sky Dive, ek wil nog eendag my hare só knip of kleur, en, en, en.
Dan skielik, voordat jy jou kan kry, is die jaar om en niks is van daardie lysie afgetik nie, en so word hy oorgedra na volgende jaar, dan probeer ons weer.
Ons koppel ons eie tydlyn aan die dinge wat ons nog wil doen en dis juis waar ons 'n fout maak, want nie ek of jy weet wat die dag van môre inhou nie.
Ek dink Covid het ons almal dit laat besef, op 'n drastiese manier.
Voor in ons skoolsaal bo die verhoog was in groot blou letters geverf "Een lewe - lééf dit". Op skool het dit nie regtig vir my soveel betekenis gehad soos wat die woorde my nou tref nie.
Ons het werklik net een lewe, een kans om die beste van ons tyd hier op aarde te maak.
Ons het werklik net een lewe, een kans om die beste van ons tyd hier op aarde te maak, en ja, Covid maak dit moeilik om positief te bly en voluit te gaan vir alles wat ons aanpak, maar miskien moet ons leef vir die elke dag.
Vir die elke dag se sonsopkoms en sonsak, elke familie-ete of braai saam met pelle, vir die elke dag se vroegoggend alarm wat afgaan. Leef vir die elke dag se 24 uur wat ons het!
Ek weet dis makliker gesê as gedaan, maar miskien kan 2022 een van jou lekkerste jare nog wees as 'n mens jou mentaliteit bietjie verander en leef vir elke dag, want soos Heuwels sê "voor jy jou oë kon uitvee, het ons nog 'n jaar kafgedraf!"
Baie van ons moes vrede maak met die feit dat Covid ons briek met baie van die planne wat ons gehad het en ons moes ons drome 'n bietjie aanskuif, maar een ding wat ek nou weet, is dat die lewe werklik kort is en daar gaan nie altyd 'n more of nog 'n dag of nog 'n jaar wees nie. As jy die kans kry om te bou aan jou lysie en drome - gaan daarvoor! En onthou Een lewe - LEEF dit!
- Elsa het grootgeword in Porterville in die Wes-Kaap. Sy het 'n BA Geesteswetenskappe-graad verwerf aan die Universiteit Stellenbosch, asook 'n nagraadse diploma in Bemarking. Sy is tans besig met 'n aanlyn kursus in bemarking by die Digital School of Marketing.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

















