Hoe sê ’n mens dankie, De Ruyter

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dankie. 'n Woord wat ons vandag skaars in die media sien. Ons hoor dit gereeld aan die einde van 'n bespreking wanneer die onderhoudvoerder die mens bedank vir sy of haar tyd om vrae te beantwoord.

Ons hoor skaars "dankie" vir wat hulle doen. Vat byvoorbeeld André de Ruyter se onderhoud op eTV.

Teen die einde bedank die aanbieder hom vir sy tyd om die onderhoud te voer, maar nie vir hoekom hy daar is nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Annika Larsen gee om oor wat in die onderhoud gesê word en wys waardering deur hoe sy vrae vra en reageer.

Die vraag bly egter: Waaroor moet ons dankbaar wees? Die feit dat hy deur soveel gegaan het in diens van ons land.

Kom ek som De Ruyter se posisie op. 'n Man wat baie meer geld in die private sektor kon maak besluit om vir die staat te werk in 'n pos waar hy voel hy 'n verskil kan maak en ekonomiese misdaad kan vasvat.

In Engels sou die gesegde "labour of love" van toepassing wees, maar vir al die liefde wat De Ruyter insit, kry hy niks terug nie.

De Ruyter is ongelukkig nie die eerste Suid-Afrikaner wat misbruik word vanweë sy passie om Suid-Afrika te dien nie. Om misbruik te word, vervolg te word en dit vanweë jou liefde vir jou land is feitlik krimineel.

Ondanks die misdadigheid doen ons regering niks vir fluitjieblasers nie. Daar is geen opvolg teen die beweerde misdade nie, misdadigers ry nie aan die pen nie, hulle word nie gearresteer nie. Die ergste is dat die fluitjieblasers wat besluit het om die regte ding te doen uit vrees moet vlug.

De Ruyter het nie verniet gesê dit sou goed vir sy gesondheid wees om oorsee'n bietjie tyd deur te bring nie.

Athol Williams, een van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se fluitjieblasers, voel dieselfde en is nou oorsee.

Buiten finansiële bydraes is daar nie veel wat die gewone mens op straat vir 'n fluitjieblaser kan bied nie. Wat ons wel almal kan sê, is dankie aan elke fluitjieblaser vir die goed wat julle doen en vir die emosionele ondersteuning wat hul families aan hulle bied.

Dankie aan dié wat in die staat werk, dié wat sit in 'n departement, dié wat elke oggend werk toe gaan en sy of haar werk doen.

Dankie aan polisielede wat ondanks 200 dossiere steeds probeer om 'n verskil te maak. Dankie aan dié wat hul "Zuma-jaar" doen in 'n hospitaal sonder genoeg hulpbronne.

Dankie aan skrywers en joernaliste soos Rob Rose, Mandy Wiener, Jacques Pauw, Adriaan Basson, Pieter-Louis Myburgh en talle ander wat die publiek bewus maak van dit wat hulle nie wil weet nie. Dankie aan die TV-programme wat lugtyd gee aan mense soos Derek Watts en Devi Sankaree Govender wat misdadigers vir ons in ons sitkamers aan die kaak kom stel.

Dankie aan dié wat ander onderrig en oplei om ondersoek te doen. Dankie aan dié wat misdaad ondersoek ten koste van hul eie lewe, soos Zethembe Chonco.

Dankie aan dié wat help om 'n ondersoek in die hof te kry en suksesvol af te handel. Dankie aan dié wat in hierdie, soms gevaarlike, bedryf werk ten koste van hulself.

Wat vir my uitstaan, is dat baie van hierdie mense wat diep seergekry het, aanhou veg, dalk nie meer in dieselfde rol nie, dalk nie meer so 'n groot stryd nie, maar steeds tot voordeel van die land en Suid-Afrikaners.

Suid-Afrika het 'n misdaadprobleem, 'n pandemie, soos baie akademici dit beskryf.

Hoe pak 'n mens so 'n probleem? Desmond Tutu het die volgende gesê oor oorweldigende probleme: "There is only one way to eat an elephant: A bite at a time."

Diegene wat bou aan Suid-Afrika, hou asseblief aan. Hap vir hap. Baie van die mense wat hier genoem word, verstaan dit en vat groter happe vir die res van ons Suid-Afrikaners.

As jy werk om die land te bou, misdadigers aan die kaak te stel en help om Suid-Afrika 'n beter plek te maak, sê ek, 'n gewone Suid-Afrikaner, vir jou dankie.

Anoniem, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

CTA