Die onlangse uitspraak deur die gelykheidshof dat die struggle-lied "Kill the Boer" nie as haatspraak geklassifiseer word nie, het baie Suid-Afrikaners moedeloos en woedend laat voel.
Ek het self hartseer ervaar oor hierdie uitspraak, maar soos wat ek deur my emosies probeer werk het, het ek agtergekom dat almal in Suid-Afrika baie meer simpatie vir mekaar se ervarings moet hê wanneer dit kom by die kwessie van ras.
Suid-Afrika is 'n land wat gebou is vanuit die wreedste vorme van rassisme. As gevolg van hierdie donker verlede is daar 'n wye, maar gedeelde trauma wat binne ons almal broei.
In plaas daarvan om by mekaar skuiling en vergifnis te soek, hou ons aan om 'n atmosfeer van beskuldiging en agterdog te skep, en ons weier om verantwoordelikheid vir ons aksies teenoor ander te neem.
Dit is waarom ek tot die besluit gekom het dat in plaas daarvan om 'n sondebok te nomineer, moet ons hierdie gebeurtenis gebruik as 'n fondasie vir ons pad vorentoe in die stryd teen rassisme.
Met hierdie uitspraak het ek weer eens besef dat talle wit Suid-Afrikaners net gepla is met rassisme wanneer hulle die slagoffers is.
Ek dink die deursnee-Afrikaner kon met hierdie uitspraak erken dat dit nie so lekker is om aan die ontvangkant van "dit was nie rassisties bedoel" te wees nie.
Hoewel ek deel in die seer wat deur die uitspraak gelewer is, moet ons herinner word aan die ontelbare kere wanneer wit Suid-Afrikaners mense van kleur in die land se ervarings en bekommernisse geminimaliseer, toegesmeer en weggewys het.
Dit het my verstand te bowe gegaan hoe baie Afrikaners ontsteld is oor die uitspraak, maar skuldig is aan presies dieselfde beginsels.

Hoe kan ons verwag dat enigiemand moet luister na ons klagtes wanneer so baie van ons nie die moeite wil doen om te luister na die klagtes van ander rasse nie?
Hoe kan ons verwag dat die gelykheidshof ons versoek ernstig moet opneem wanneer ons aanhou om "Die Stem" te eer en die k-woord rond te gooi, ten spyte van ander rasse se pleidooie dat ons moet ophou? Waarom verwag ons dat ander eers moet ophou rassisties wees, voordat ons ons eie denkwyse sal verander?
Met hierdie uitspraak het ek weer eens besef dat talle wit Suid-Afrikaners net gepla is met rassisme wanneer hulle die slagoffers is. Rassisme kan nie oorwin word wanneer jy net baklei as dit jou pas nie. Rassisme word nie geveg wanneer ons teen mekaar baklei nie.
Gelykheid word nie gevestig wanneer ons net vir onsself opstaan nie.
LEES OOK: ‘Kill the boer': Ek voel nie meer soos 'n SA burger nie
Die stryd teen rassisme is nie 'n kwessie van swart teenoor wit nie. Dis 'n oorlog teen 'n ongegronde haat wat oorgedra word tussen generasies en wat manifesteer in 'n weiering om te luister na ander se ervarings van die genoemde haat.
Hierdie land het 'n diep gewortelde trauma wat saad skiet in ons mentaliteit om net na ons eie belange en die belange van dié wat soos ons lyk om te sien. Maar daar is iets so mooi, so genesend, wat gebeur wanneer ons saam teen haat en diskriminasie in diens van mekaar opstaan.

Ek is hartseer oor die uitspraak, maar ek weet dat ware gelykheid afhang van hoe ek mense behandel, en hoe hulle my in die toekoms op dieselfde manier terug sal behandel.
My wens is dat hierdie uitspraak nie verdere vyandigheid en skeiding sal veroorsaak nie, maar dat dit sal lei na 'n dieper verstaan van mekaar se pyn en 'n sterker roeping om op 'n konstante grondslag mekaar se welstand te bevorder.
- Corli Bernardt studeer visuele kommunikasie-ontwerp aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog heeltyd hoe dit werk? Kyk na hierdie video.

















