Elkeen verf sy eie prentjie in hul kop van wat liefde is, of wat dit nie is nie.
Ek glo vas dat jy eers jouself moet liefhê voordat jy werklik iemand kan toelaat om jou lief te hê.
As jy jouself na waarde ag, sal elke Jan Rap en sy maat se mooipraatjies jou nie flous nie. Mense onderskat hoe belangrik dit is om tyd met jouself deur te bring en jouself eers goed te leer ken.
Liefde maak nie seer nie - mense maak seer. Iemand wat onbevoeg is om te verstaan wat jy nodig het of hoe om jou lief te hê, maak jou seer. Liefde is nie kwantifiseerbaar nie, maar deesdae voel dit vir my dít is hoe mense liefde probeer uitken.
"Hy het my na 'n duur restaurant geneem" of "Sy het toe vir my daardie luukse horlosie gekoop". Geld kan nie liefde koop nie. Twee mense wat lief is vir mekaar, mekaar ondersteun en nie skrik vir sewe sake sout eet of klippe kou nie, is ten volle daartoe in staat om suksesvol in die liefde te wees.
Liefde is nie 'n ouderdom of 'n lewensfase nie. Om op jou eie te wees is nie 'n tydperk van wag nie, sien dit eerder as 'n geleentheid om jou persoonlike drome na te streef en aan jouself te verbeter.
Goeie dinge vat tyd.
Soms laat nog 'n tannie se "Wanneer kry jy nou 'n kêrel, Sussie? Jy raak nie jonger nie", 'n suur smakie in die kiewe. Liefde het ook nie 'n tydstip nie. Dit kom wanneer 'n mens dit die minste verwag en slaan jou vir 'n ses. Goeie dinge vat tyd. As 'n Stellenbosse student kan ek definitief getuig dat wyn 'n goeie voorbeeld hiervan is. Ek hoor ook alte gereeld hoe die Karoo-boertjies verkondig dat hulle "gou moet plan maak" in hul finale jaar voordat hulle terugkeer na die vlaktes.
Liefde is ook nie net 'n gevoel nie. As 'n mens jou hele lewe lank besluite moes neem slegs op gevoel gegrond, sou ek graag 'n vlieg teen die muur wou wees om te sien hoe dit uitdraai. Wat ek hiermee bedoel, is dat die lewe soms snaakse draaie loop en die harde werklikheid van die grootmenswêreld oorweldigend raak. Soms gaan jy moet opstaan en 'n doelbewuste keuse moet maak om lief te wees vir jou mens en hulle te ondersteun.
Liefde is om die tamatie spesiaal van sy braaibroodjie af te haal omdat hy 'n bietjie vol nonsens is.
Liefde is vir my om steeds vir haar skaaptjoppies te braai, al is jy moeg ná 'n lang dag se werk, net omdat jy weet dis haar gunsteling. Liefde is saam op die bank lê en Binnelanders kyk. Liefde is om die tamatie spesiaal van sy braaibroodjie af te haal omdat hy 'n bietjie vol nonsens is. Liefde is 'n warm bad vir haar tap sonder dat sy vra, en liefde is 'n Bovril-broodjie vir hom maak wanneer hy siek is. Liefde is die klein goedjies vir mekaar doen.
Liefde is die grootste avontuur wat jy ooit in jou lewe sal aandurf. Dis soos bergklim, jy gaan eers 'n bietjie ongemak moet verduur om op die ou end die asemrowende uitsig te kan aanskou.
Moenie iets ongelooflik misloop omdat jy bang is om die eerste opdraande-treetjie te neem nie.
Almal hou van 'n groot romantiese gebaar; ek het nog nooit gehoor 'n vrou kla nadat sy 'n dosyn rooi rose ontvang nie. Die hoofrede hoekom huwelike egter gewoonlik verbrokkel, is nie weens 'n gebrek aan groot dinge nie. Dis die klomp alledaagse dingetjies wat opbou, en twee mense wat verby mekaar leef.
Ek is vanjaar maar net 22 en dit is maar my twee sent oor die liefde. Wat ek wél baie vroeg in my lewe by my ouers geleer het, is dat liefde 'n onblusbare vlam is wat ons Skepper vir ons as man en vrou op die aarde gegee het om Sy lig in die donkerste tye vir mekaar te laat skyn.
- Nicci studeer vir haar honneursgraad in rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom van George.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukkie hier.
- Volg ons op Facebook en Instagram!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

















