Agter elke masker is 'n mens wat in die samelewing van identiteitlose wesens wegsmelt.
Tydens die pandemie het ons almal geleer hoe om in die masker-samelewing aan te pas.
Ja, die masker is vir die meeste mense 'n lastigheid, maar is daar al besin oor mense met sosiale angs vir wie dit makliker geraak het om mense van agter die skans van 'n masker te benader en met hulle te kommunikeer?
Nou die dag bevind ek my in 'n restaurant waar ek saam met 'n vriendin koffie drink. Die oomblik toe ek gaan sit en my masker afhaal, oorval 'n vreemde gevoel van angs my.
Party mense kry sogenaamde "masker-angs" of 'n benoudheid as hulle dit dra, maar ek ervaar angstigheid as ek dit moet afhaal!
Dan voel ek meteens intens blootgestel aan die samelewing. Dis asof die masker vir my 'n veilige gevoel van anonimiteit gee waaragter ek kan skuil.
Om my masker soggens aan te sit gee my 'n gerusstellende gevoel van anonimiteit. Jy verbloem jouself en smelt weg in 'n see van maskerdraers.
Ons het geleer om te kommunikeer deur slegs mense se gevoel oor 'n saak in hul oë waar te neem.
Die pandemie het baie hartseer en trane veroorsaak, maar tog het ons almal aangepas. Die masker gee ons die voordeel dat ons nie te veel aandag aan ons voorkoms hoef te skenk en heeltyd "op jou beste" te lyk nie, want almal lyk dieselfde.
Ons het geleer om te kommunikeer deur slegs mense se gevoel oor 'n saak in hul oë waar te neem. Gesigsuitdrukkings beteken ook nie meer dieselfde nie. Ek moet sê, dit is verwarrend as jy nie kan hoor wat die ander persoon agter die masker sê nie.
Ons is dikwels besig om ons ware gevoelens weg te steek en 'n gedwonge glimlag vir die buitewêreld op te sit. Hoeveel keer het jy al gemaak of jy lag vir iets wat jy nie regtig dink is snaaks nie? Hoeveel mense lag regtig as hulle die lag-emoji stuur? Dis ook makliker wanneer jy slegs jou oë hoef te gebruik om daardie emosie uit te beeld. Dit is so maklik om 'n valse indruk te skep en agter die masker te skuil.

Maar met my masker aan voel ek veilig, ek voel ek hoef nie te hard te probeer om in te pas nie. Mense sien jou soos die volgende een langs jou. Daar word net 'n bietjie minder van jou verwag en jy is nie so in die kollig nie. Die masker gee my skuiling op plekke waar ek nie in daai oomblik my ware self wil wees nie. Dit het al heelparty kere tot my redding gekom, nie net deur my te beskerm teen die virus nie, maar ook wat my selfbeeld betref.
Maar het my masker, wat my teen kieme moet beskerm, my nie dalk meer kwaad as goed gedoen nie? As 'n teruggetrokke introvert, kan ek terugval in die gemaksone van masker dra, eerder as om myself te dwing om meer selfvertroue te hê.
Eendag sal ons wel sonder die masker moet aangaan en weer ons eie identiteit moet uitleef. Dit gaan vir my 'n groot aanpassing wees. Met my masker aan sien ek vir meer kans. Dit gee my 'n kans om myself te wees en, ironies genoeg, vrylik asem te haal.
- Liza Joubert studeer BA-kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit en is tans 'n derdejaarstudent. Sy is oorspronklik van Pretoria.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukkie hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

















