Dis gewoonlik op die dae wat ek die meeste stres dat die kreatiewe sparks kom. Kyk, ek's geen Van Gogh nie en sal ook nooit wees nie.
My brein voed immers op formules, syfers, metodes, tegnieke en logika. Ek swot nie wiskunde vir die fun nie!
Dit was egter minder as 'n maand voor die aansoeke moes in wees dat ek dié loopbaanrigting impulsief gekies het. Met hierdie random kreatiwiteit wat my vandag onkant vang, dink ek aan my lewe in terme van hoofstukke.
Gebore, Kind, Tiener, Student, Volwassene, Trou, Gebore, Kind en raai wat dan? Dan herhaal die hoofstukke oor en oor.
Dis 'n rowwe siklus. Dis nogal onoorspronklik ook.
Ek dink die oorspronklikheid in die boek van die lewe is dat ons nie altyd kan voorspel in watter hoofstuk ons ons volgende gaan bevind nie.

Hoewel die meeste mense se lewensboek baie van dieselfde hoofstukke bevat, is niemand s'n netjies en chronologies eenders nie.
Sommige mense se lewe het nie al die hoofstukke nie. Of eindig skielik op 'n plek in die storie wat glad nie sin maak nie.
Dit laat my dink aan die Tintin-boeke wat ek as kind gelees het. Dis wonderlike stories en ek was mal daaroor. Ek het al agt boeke van die reeks. Die heel laaste storie het soos al die ander Tintin-boeke begin, met die mooiste kleurvolle sketse en spraakborrels met woorde waarmee ek as kind gestoei het.
Ek het gelees en gelees totdat die sketse in die boek hul kleur verloor het en die spraakborrels se woorde amper onleesbaar geword het.
Van kleur geleidelik na swart en wit. So het ek maar verder gelees sonder om dit te bevraagteken. Die skrywer weet mos wat hy doen en wat het ek, wat net die leser is, eintlik te sê?
Dis eers later dat ek uitgevind het dat die skrywer afgesterf het voordat hy die laaste Tintin-boek wat hy ooit sou skryf, kon klaarmaak.
Die storielyn van die laaste boek in reeks agt het in die middel van nêrens geëindig en ek kon dit nooit verstaan nie. Dis eers later dat ek uitgevind het dat die skrywer afgesterf het voordat hy die laaste Tintin-boek wat hy ooit sou skryf, kon klaarmaak. Is dit nie hartseer nie? Maar tog ook so gepas?
Hoor my uit: Hy is oorlede terwyl hy besig was met sy passie in die lewe. Hy het gedoen wat sy doel in die lewe was. He died of passion rather than boredom, soos Van Gogh mos gesê het. Daar het Hergé se lewe, net soos sy laaste Tintin-boek, geëindig voordat die storie klaar was.
Ek dink die hoofstuk waarin my lewe nou is se titel sou iets soos Groei moet wees. My storie gaan tans deur soveel draaipunte. Karakters tree uit. Emosie vloei soos ink oor die bladsye. Sinne word uitgekrap. Woorde word minder. Woorde word meer. Antagoniste probeer my bladsye uitskeur.
'n Komma hier en 'n komma daar. Ja, ek dink my hoofstuk het baie kommas daarin.
Jy dink ek is klaar gepraat, maar dan het ek nog iets om te sê. Ek het altyd iets te sê. Maar daar is dae dat die spierwit papier vir 'n hele ruk leeg lê omdat ek moeg geword het vir die sinskonstruksie van die lewe.
'n Paar kommas verander in punte. Dan is ek net klaar. Paragrawe skakel nie altyd nie en soms maak hulle chronologies net vir my sin. Baie spelfoute en 'n vermenging van tale wat elke taalonderwyser se lewensboek net so sal omkap. Die teenwoordige, verlede- en toekomstige tyd is ook soms deurmekaar, want my lewe is tydloos.
Ek is 'n deelwoord en werkwoord wat 'n gesegde kan misgis vir 'n onderwerp of 'n versreël. Ek is 'n rowwe siklus. Ek groei. Ek kom op en ek gaan onder, 'n bietjie soos die son.
Ek skyn, al maak my lig nie vir ander sin nie.
- Chizelle studeer BSc wiskundige wetenskappe (tweede jaar) aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

















