’n Brief aan my universiteitswoonstel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bianca Meyer
Bianca Meyer

Binne jou het ek myself vir vier jaar lank tuisgemaak en leer ken op maniere wat nêrens anders vir my moontlik sou wees nie.

Vir vier jaar kon ek soveel verander soos wat ek wou en jy was meestal die enigste konstante. Jy het weergawes van my gesien wat nie eens my familie of naaste vriende beleef het nie.

Ek het mense binne jou toegelaat. Van hulle is nog gereelde besoekers, van hulle voel al so tuis binne jou soos ek en van hulle wil dit nie eens naby jou hoofhek waag nie.

Binne jou het ek my eerste liefde leer ken en in jou het ek myself weer opgetel ná my eerste groot hartbreek. Ek het hier geleer kosmaak, alleen wyn drink en om met myself te dans.

Ek het jou voordeur oopgemaak, toegeslaan, oop vergeet en myself 'n paar keer uitgesluit. In jou leefarea het ek vriende laat lag, mense gehelp, deurnag en die lekkerste middagslapies gevat. Op jou stoep het ek winter- en somerseisoene ervaar en ek het meubels en stukkies van my verlede uitgedra en weggebêre totdat ek dit weer kon optel en uitpak.

Op jou vloere het ek meubels rondgeskuif, op en af gespring van opgewondenheid, voor dinees en funksies in 'n groot haas in my hakskoene rondgehol, gelê en huil terwyl ek hoop die wêreld sluk my in, aan die slaap geraak, uitgepass en ook báie langs my bed op my knieë gestaan.

Jou kaste was bêreplek vir goed wat vir my mooi en belangrik is, maar ook dinge wat ek nie wou hê die res van die wêreld moes sien nie.

Met kere het jou mure my vasgedruk en met ander kere het hulle my vasgehou.

In jou spieëls het ek myself hard en vierkant in die oë gekyk en introspeksie gedoen, maar ook geleer om soms met sagter oë na myself te kyk.

Binne was jy al vuil en chaoties - gewoonlik 'n weerspieëling van my lewe op daai tyd, maar jy het weer stukkie vir stukkie skoon en blink geword. Nou is jou chaos net 'n weerkaatsing van 'n besige Bianca.

Binne jou het ek baie meer geleer as die inhoud van my twee grade . . . Ek het binne jou myself heel uitmekaar getrek en totaal herontdek.

Met kere het jou mure my vasgedruk en met ander kere het hulle my vasgehou.

Jou plafon het gelig van harde musiek en ook die skreeu van harde woorde en het heelwat houe gevat van sjampanjeproppe en halfgaar pasta.

Jy was daar vir die hoogste en laagste stukke en my veilige hawe vir alles tussendeur.

Een ding is seker - die Bianca wat vir die eerste keer naïef en met groot oë jou voordeur oopgesluit het en die Bianca wat vir die laaste keer weer jou voordeur sal toesluit, is twee verskillende mense en ek hoop dat die volgende persoon - wie dit ook al mag wees - eendag dieselfde sal kan sê.

  • Bianca het BCom bedryfsielkunde met arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit studeer.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hieride video

Bianca Meyer, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

CTA