Resensie: ‘Midnights’ van Taylor Swift

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Taylor Swift het op 21 Oktober vanjaar haar tiende album, Midnights, uitgereik. Hierdie album bestaan uit 13 snitte en is altesaam 44 minute en agt sekondes lank. Met hierdie nuwe album het sy ook die Billboard-Top-100 se amptelike rekord verbeter deur al tien die topposisies met van haar nuwe snitte te beklee.

Wanneer 'n mens na die album luister, kan jy jou indink dat Swift in die middernagtelike ure besig is om die snit te skryf en te toonset. Haar stemtoon vertel die storie van hoe sy gesukkel het om haar eie identiteit te aanvaar en nagte om wakker gelê en musiek geskryf het. Ooreenkomste met haar Reputation-album se snitte "Delicate" en "Dress" kan duidelik gehoor word.

LEES OOK | 10 uit 10 vir Taylor Swift op Billboard Hot 100

Die album self laat 'n mens verskeie emosies ervaar, soos met die snit "Karma" waar Swift 'n bietjie naels wys in teenstelling met "Maroon", wat die storie van 'n liefdesverhaal vertel wat nooit gaan uitwerk nie. Dis die tipe verhaal waarmee Swift vereenselwig word. In teenstelling met van Swift se ouer albums wat definitiewe oorgange in haar lewe ten toon gestel het, is Midnights terug in die pop-era.

Wat egter anders is met hierdie album is dat sy weer regstreeks met haarself praat en sing oor haar innerlike konflik. Die snit "Anti-Hero" is 'n duidelike weerspieëling van haar innerlike stryd gedurende haar loopbaan.

Die omslag van Taylor Swift se tiende studioalbum, ‘Midnights'.
Die omslag van Taylor Swift se tiende studioalbum, ‘Midnights'. (Foto: Facebook/Taylor Swift)

Die sagter deel van hierdie album word weerspieël in "Sweet Nothing" wat sy saam met haar kêrel, Joe Alwyn, geskryf het.

In die album se amper naamgenoot "Midnight Rain" kyk sy na die weergawe van haar lewe waar sy haar loopbaan bo liefde en samesyn geplaas het. "Snow on the Beach", saam met Lana del Rey, werk 'n bietjie rustigheid by die album in.

Indien jy op soek is na 'n opwindende popalbum, soek jy op die verkeerde plek, maar indien jy op soek is na harmonieuse popmusiek met 'n definitiewe narratief, is jy op die regte plek.

Midnights deur Taylor Swift is een van haar albums met baie betekenis en sy vertel 'n verhaal met haar lirieke en stemtoon. Ek het die album baie geniet en gee dit sewe uit tien.

  • Karlynka is 'n derdejaarstudent in BA Taal en Literatuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Karlynka Stafford, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

CTA