Asof die stilte en donkerte om my nie genoeg was om my hart swaar te maak met 'n gevoel van Sondagaand-blues met beurtkrag 'n paar dae gelede nie, het ek besluit om die nuus te lees. Die een negatiewe berig ná die ander: "Fase 6 verleng", "Ekonomie sukkel sonder krag", die lys gaan aan.
Maar skielik, met grappige draaie en handseine, verskyn 'n verkeersbeampte van Gqeberha oor my skerm in 'n video waar hy die verkeer reguleer terwyl die verkeersligte buite werking is.

In die agtergrond kan jy die motoriste se toeters hoor waarmee hulle sy entoesiastiese bewegings aanmoedig terwyl hulle die kruising oorsteek.
"Ek wil mense laat glimlag," het Richmond Menzi, die verkeersbeampte, sy optrede aan 'n verslaggewer verduidelik.
Nog 'n beampte sê dat die publiek een ná die ander hul dankbaarheid hieroor uitgespreek het. Hulle ontvang daaglikse oproepe van mense wat hom loof omdat hy so positief is.
Aanvanklik was ek verras deur hierdie unieke en energieke individu. Net om die volgende oggend opgekikker te word deur nog twee verkeersbeamptes wat hul daaglikse take met dieselfde energie en entoesiasme aanpak. 'n Vrouebeampte blaas soene vir die bestuurders wat verbyry, en 'n ander beampte spring op en af terwyl hy sy hand in die lug opskiet om die motoriste te wys om te stop. Dit het my onmiddellik ook laat glimlag.

Dit is wonderlik dat hulle inisiatief gebruik en sodoende die geestestoestand van Suid-Afrikaners positief beïnvloed.
Vir my is dit die kern van ons ubuntu-konsep om sterk te staan en ander te help. En om diegene te waardeer en bemoedig wat sterk staan wanneer jy dalk ly.
Die konsep van balansering in 'n gemeenskap word gedefinieer as die aksies wat 'n sekere groep neem om die kans van oorwinning teen kragtiger invloede gelyk te maak.
Die probleme wat ons het kan dalk swaar voel, maar ons getrouheid aan die konsep van ubuntu - ons lojaliteit en deernis - sal altyd namba one wees.
- Petra studeer geleentheidsbestuur aan The Aleit Academy en is in haar derde jaar.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?



















