Die bevel van hoofregter Raymond Zondo op 21 November vanjaar dat Janusz Walus (69) ná byna 30 jaar se gevangenisstraf op parool vrygelaat moet word, is vanuit talle politieke oorde veroordeel.

Walus is lewenslange gevangenisstraf opgelê nadat hy op 10 April 1993 vir Chris Hani, die destydse sekretaris-generaal van die SAKP en stafhoof van Umkhonto we Sizwe, in Boksburg vermoor het.
Hy is uiteindelik op 7 Desember vanjaar op parool vrygelaat, maar sy lang stryd om parool te kry laat die vraag ontstaan of daar gelyke behandeling vir alle gevangenes is wanneer vrylating op parool oorweeg word.
Walus is in dieselfde jaar waarin hy vir Hani vermoor het, vervolg, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Ná die S v. Makwanyane-uitspraak in 1995 waarin die doodstraf afgeskaf is, is Walus se vonnis na lewenslange gevangenisstraf omgeskakel. Volgens die Wet op Korrektiewe Dienste (wet 11 van 1998) moet 'n persoon wat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, tegnies lewenslank agter tralies bly.

Parool kan egter die tydperk verkort wat sulke misdadigers in korrektiewe sentrums deurbring, weliswaar nadat sekere paroolvoorwaardes opgelê is.
Voor 1 Oktober 2004 moes gevangenes wat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, 20 jaar van hul vonnis uitdien voordat hulle vir parool in aanmerking sou kom. (Hierdie tydperk is deur wetgewing gewysig tot 25 jaar vir gevangenes onder die ouderdom van 65). Die paroolraad, wat alle aansoeke om parool moet goedkeur, kan egter ook krediete vir goeie gedrag in aanmerking neem, wat die tydperk kan verkort.
Walus het dus in 2011 (ná die Van Wyk-uitspraak wat die tydperk verder verkort het tot 13 jaar en vier maande vir diegene wat voor Oktober 2004 lewenslange gevangenisstraf opgelê is) vir die eerste keer aansoek gedoen om parool. Die paroolraad het aanbeveel dat hy op parool vrygelaat moes word.
Die minister van justisie en korrektiewe dienste het egter dié, en verskeie ander aansoeke om parool, van die hand gewys en Walus se hofaansoeke hieroor deurentyd teengestaan. Daar is ook wyd voorsiening gemaak vir sogenaamde slagoffer-oortreder-dialoog waartydens Hani se weduwee skerp kapsie gemaak het teen parool vir Walus, selfs nadat hy verskeie kere om verskoning gevra het vir sy dade.

Ná 'n jare lange hofstryd het die konstitusionele hof egter beveel dat Ronald Lamola, huidige minister van justisie en korrektiewe dienste, vir Walus binne tien dae op parool vrylaat onder voorwaardes wat die minister sal bepaal. Die tydperk is egter verleng nadat Walus op 29 November deur 'n medegevangene met 'n mes gesteek is en eers moes herstel.
Hier moet ons in ag neem dat gevangenes wat voor Oktober 2004 gevonnis is, soos Walus, slegs vir 'n maksimum tydperk van twee jaar aan hierdie paroolvoorwaardes onderwerp kan word. Paroolgangers wat ná dié tydperk lewenslank gevonnis is, bly egter lewenslank onderworpe aan hierdie voorwaardes.
'n Interessante kinkel is egter dat Walus se Suid-Afrikaanse burgerskap in 2017 herroep is, wat beteken dat hy tegnies ná sy vrylating na Pole gedeporteer moet word. Pole sal egter nie onder enige verpligting wees om die paroolvoorwaardes wat in Suid-Afrika opgelê is, te handhaaf nie.
Wat egter benadruk moet word, is die feit dat nie alle gevalle konsekwent hanteer word nie.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het egter op 28 November vanjaar aangekondig dat sy departement 'n uitsondering gemaak het sodat Walus in die land kan bly ten einde sy parooltydperk hier uit te dien. Hierdie uitsondering het wel 'n voorwaarde, naamlik dat Walus geen reisdokumente en/of paspoort wat deur die ambassade van Pole uitgereik word, mag gebruik om na sy geboorteland terug te keer nie. Walus se regspan voer aan dat dié voorwaarde onregverdig is.
Die media-aandag wat die Walus-geval gekry het, het opnuut die aandag gevestig op die paroolproses in Suid-Afrika. Wat egter benadruk moet word, is die feit dat nie alle gevalle konsekwent hanteer word nie. Daar is ongelukkig talle gevalle waar die families van slagoffers of slagoffers self nie eens in kennis gestel word dat persone wat hulle te na gekom het deur misdaad te pleeg, aansoek gedoen het om parool nie. Dit is wel die geval dat niemand geregtig is op parool nie en dat dit 'n voorreg is wat deur die owerhede oorweeg en goedgekeur moet word, maar dan moet alle misdadigers oor dieselfde kam geskeer word.
- Natasha Venter is 'n dosent in Regsgeleerdheid by Akademia met 'n passie vir strafprosesreg.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!


















