C.S. Lewis (1898-1963) was 'n Britse akademikus en skrywer wat eers aan die Universiteit van Oxford (1925-1954) en later aan die Universiteit van Cambridge (1954-1963) verbonde was.
Hy het 30 boeke geskryf, waarvan die Chronicles of Narnia-reeks, Space Trilogy en Screwtape Letters seker die bekendste is.
Hy het ook verskeie geestelike boeke geskryf, soos Mere Christianity, Miracles en The Problem of Pain. Verskeie van sy briewe, lesings en essays is ook ná sy dood gepubliseer.
Lewis was in sy leeftyd goeie vriende met J.R.R. Tolkien en hulle het saam die informele literêre groep The Inklings begin.
Watter lesse kan ons vandag nog by hierdie skrywer en denker leer?
In sy kort essay "Meditation in a Toolshed" help Lewis ons om te verstaan dat minstens twee perspektiewe betrokke is wanneer ons 'n mening vorm. Wanneer ons na iets kyk ("looking at") ontleed ons 'n gedagte of 'n objek vanaf 'n afstand. Hierdeur probeer ons om so objektief as moontlik 'n mening te vorm.
Dan is daar die mening wat gevorm word wanneer ons iets self ervaar het. Lewis verwys hierna as "looking along".
Wanneer ons hierdie twee perspektiewe in gedagte hou, kan dit ons help om te besef dat die kennis wat ons van 'n afstand opdoen, ons nie noodwendig die volle prentjie gee nie.

Dit is veral belangrik om te onthou in 'n samelewing soos dié van Suid-Afrika. Om die verskillende kulture en ervarings te verstaan is dit nodig om te besef dat 'n mens dit nie net van 'n afstand af kan doen nie. Ons moet vanuit mekaar se perspektiewe na die land kyk.
Hierdie tema kom ook in Lewis se ander werke voor. In The Lion, the Witch and the Wardrobe gebruik hy Lucy om ons vir die eerste keer aan die wêreld van Narnia voor te stel. Sy het in 'n klerekas geklim om by hierdie versteekte wêreld uit te kom.
Lewis gebruik ons verbeelding om ons dieper waarhede oor die werklikheid te leer. Dit is nie altyd die grootste of sterkste onder ons wat die held of heldin in die verhaal is nie. Soms kom ons grootste helde en heldinne vanuit die mees onwaarskynlikste plekke.
Wie weet of Tolkien steeds The Lord of the Rings sou skryf as Lewis nie daar was om hom aan te moedig nie.
Nog 'n belangrike les wat ons by Lewis kan leer, is die waarde van vriendskap wat hy in verskeie van sy werke en ook sy leefwyse beklemtoon het.
Volgens Alister McGrath het hy Tolkien gereeld aangemoedig om The Lord of the Rings te voltooi. Tolkien het weer later vir Lewis aangemoedig om die pos by Cambridge te aanvaar. Albei hierdie skrywers het dieselfde geloof en 'n passie vir letterkunde gedeel. Lewis skryf in The Four Loves dat 'n vriendskap gevorm word wanneer twee vreemdes mekaar ontmoet en besef dat hulle passies in gemeen het.
Ons vriendskappe word gebou op grond van dit wat ons deel. Sulke vriendskappe kan ons ook help om ons passies uit te leef en om ons doel te bereik. Wie weet of Tolkien steeds The Lord of the Rings sou skryf as Lewis nie daar was om hom aan te moedig nie.
Die laaste les wat ons by Lewis kan leer, is wat menswaardigheid beteken. In sy lesing "The Weight of Glory" sê Lewis dat 'n mens nog nooit interaksie met 'n gewone persoon gehad het nie. Lewis som dit soos volg op: " . . .it is immortals whom we joke with, work with, marry, snub and exploit - immortal horrors or everlasting splendors".
Lewis grond hierdie op sy Christelike oortuigings dat elke mens na die beeld van God geskep is, en dus het almal ewigheidswaarde. Dit laat 'n mens ook dink oor die waarde van elke lewe en hoe ons ander hanteer.
- Louw Brink het sy BA Honneurs in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat in 2019 voltooi. Hy werk tans as 'n skryfkonsultant by die universiteit se Unit for Language Development. Louw berei tans voor vir sy MA in filosofie.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:
















