Sokrates, die Griekse filosoof, het blykbaar op sy doodsbed geuiter dat die lewe wat nie oordink is nie, nie die moeite werd is om te leef nie.
Die letterlike betekenis van die woord filosofie is 'n liefde vir wysheid. Tog is die hedendaagse beeld van filosofie ietwat opgesluit in die sogenoemde ivoortoring van die akademie.
Die filosoof-historikus, Pierre Hadot, spekuleer op sy beurt dat hierdie isolering in die ivoortoring rondom die derde eeu gebeur het.
Denkers voor hierdie voorval het geworstel met vrae soos "Hoe kan 'n mens lewe?". Ná hierdie afsondering het die fokus verskuif na tekstuele ontleding. Vrae het verander na "Hoe kan 'n mens, volgens Plato se teorie, leef?" Kortliks, die fokus het beweeg vanaf 'n "geleefde filosofie" na 'n "verklaring van literêre tekste". Kontemporêre filosofie, vasgevang in die ivoortoring, worstel na bewering met kwessies wat die alledaagse persoon dalk nie sal traak nie.

Filosofiese berading, 'n moderne beweging in praktiese filosofie, doen weg met hierdie idee. Dit keer as't ware terug na die "geleefde filosofie" waarop die ou Griekse denkers aanspraak gemaak het. Fokus is veral op die terapeutiese element daarvan.
Filosofie-as-medisyne was nie 'n vreemde idee in die antieke tye nie. Menige filosowe het die sogenoemde mediese metafoor voorgehou. Epikurus het, onder meer, gesê dat die woord van 'n filosoof nutteloos is as dit nie genees nie. Sekstus Empirikus gebruik sy begrip van skeptisisme om deur middel van argumente die sogenoemde dogmatis te genees.
Nie almal stem egter saam met hierdie siening oor die genesingspotensiaal nie. Die filosoof George Berkeley veronderstel dat om te filosofeer soortgelyk is aan om stof op te skop en dan te kla dat ons nie kan sien nie. David Jopling beweer na aanleiding hiervan dat filosofie "slegte medisyne" is.
Wat is filosofiese berading dan nou eintlik? Dit is nie maklik om 'n eenvoudige antwoord te verskaf nie. Na my mening is filosofiese berading die gesamentlike filosofeerdery van 'n filosoof en 'n gespreksgenoot. Daar is nie sprake van doelwitte nie, maar byprodukte soos horisonsverbreding kan verwag word. Hoewel N.P. van Wyk Louw nooit oor filosofiese berading geskryf het nie, kan hy ons baie help om die tipe filosofeerdery wat verlang word te verstaan.
Van Wyk Louw bespreek in 'n kort opstel in Maskers van die erns drie redes hoekom nie almal na filosofie sal keer nie. In plaas daarvan om hierdie as kritiek te sien, stel ek voor dat hierdie juis sterkpunte is en ook die bestaansrede vir filosofiese berading is.

Die eerste rede volgens van Wyk Louw waarom filosofie nie vir almal bestem is nie, is omdat dit 'n alomvattende aktiwiteit is wat selfs gekoesterde oortuigings ondersoek. Tweedens, dit is 'n tydsame en stadige aktiwiteit. En laastens omdat daar nie 'n onmiddellike en waarneembare beloning is nie. Hy sluit af deur te noem dat nie baie hulle in filosofie sal begeef nie en die wat dit wel doen nie lank sal bly nie.
Ek dink juis hierdie drie opmerkings lê die basis vir filosofiese berading en om dan uiteindelik filosofies te kan leef. Eerstens stel ek voor dat die persoon wat saam met die filosofiese berader aktief filosofeer die tog nie alleen sal aandurf nie. Saam sal hulle na elke oortuiging kyk en daaroor dink.
Anders as akademiese filosofeerdery is die eindpunt nie om meer sekerheid te verwerf nie, maar eerder om oortuigings vanuit nuwe en vars perspektiewe te sien. Tweedens, om te filosofeer is 'n tydsame proses.
Ons lewe in 'n kitskos-era waar alles oënskynlik onmiddellik gebeur. Om te filosofeer kan gesien word as 'n tydelike terugstaan en 'n vars bries in hierdie blits-leefstyl. Dit is wel nie vir almal nie, soos van Wyk Louw tereg genoem het, maar dit moet eerder as 'n sterkpunt gesien word.

Derdens, daar is min beloning daarin om te filosofeer. Van Wyk Louw noem ook dat die waarde van filosofiese denke in die proses self lê. Hierdie is egter 'n ongelooflike belangrike punt wat vele filosowe in moderne filosofie vergeet. Die uiteindelike doelwit van filosofie, soos beaam deur Aristoteles, is om te filosofeer.
Om af te sluit wil ek die vraag in dié bydrae se opskrif beantwoord. Kan Sokrates regtig help om jou wêreld te verstaan? Nee. Die rede hoekom ek nee antwoord, is belangrik. Om filosofies te lewe kan nie geleer word nie. Dit kan slegs met die verloop van tyd ingewin word.
Filosofiese berading, wat gesien kan word as gesamentlike filosofeerdery, beaam hierdie idee. Om aktief te filosofeer kan jou lewe verryk, soos om 'n sport te beoefen. Sokrates het ons wel belangrike lesse geleer, maar om te filosofeer vra van ons om nie vas te hou aan wat ander in hul tyd gesê het nie. Die fokus is dus daarop om nuwe maniere van leef te ontwikkel en gesamentlik te filosofeer, hetsy met 'n berader of jou vriende.
- Jaco Louw is 'n PhD-student in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy woon tans in Somerset-Wes.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk na hierdie video.
















