Ag nee, nie rassisme in 2022 nie!
Dis hartseer, maar dis die bose kringloop wat ons as Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar.
Die Stellenbosch Universiteit (US) is een van die gehalte- akademiese instansies in die land. Om keuring daar te kry, moet jy intellektueel mededingend wees. Selfs buitelandse studente verkies om daar te studeer.
My vraag is dus: Bepaal jou velkleur, agtergrond of jou ras jou intellektualiteit? Nee, dit doen nie. So, hoekom voel wit studente hulle het die reg om ander studente te minag aan 'n instansie wat internasionaal vir sy uitnemendheid erken word?
Subtiele rassisme is rassisme wat in die doofpot gestop word. Dis daar, maar word nie uiterlik vertoon nie. Die doel daarvan is om mense van kleur te benadeel.
Netwerk24 het 'n video geplaas wat wys hoe 'n wit manlike student in 'n ander swart manlike student se kamer urineer. Hoekom doen hy dit? Die enigste doel van hierdie gedrag is negatief.
Die geskiedenis van ons land het baie letsels gelaat. Ons word geleer om te vergewe sonder om met haat te onthou - baie wyse woorde, maar ons word die heel tyd met die bose kringloop van apartheid gekonfronteer. Hoe ontsnap ons hiervan? Waar gaan dit stop? Hoekom doen ons nie iets aan dié minagtende gedrag nie? Wat staan ons te doen?
Wanneer een Suid-Afrikaner hom wangedra, raak dit almal.
Nou sit ons met 'n probleem. Wanneer een Suid-Afrikaner hom wangedra, raak dit almal. Ons kan dit toesmeer en sê dis boeliegedrag, of ons kan drank blameer, maar die oorsaak van hierdie gedrag kan nie meer geïgnoreer word nie.
Kom ons wees eerlik met onsself en met ander. Doen introspeksie en vra jouself af waarmee ons sukkel. Waarmee kan ek nie vrede maak nie? Wat glo ek en hoekom glo ek dit? Is ek objektief of subjektief? Wie is ek eintlik en waar pas ek in die samelewing in? Wat kan ek verander in myself? Wat van die dinge wat ek nie kan verander nie? Wat is dit wat my eintlik pla?
Kom ons neem verantwoordelikheid vir dit wat binne ons is en gee verantwoordelikheid terug vir dit wat nie aan ons behoort nie.
Veranderinge begin altyd by onsself.
Babalo Ndwayana (op wie se lessenaar in die koshuis geürineer is) sê aan News24: "I would forgive him. Even he is also traumatised enough now. "
Hierdie is woorde van 'n intellektueel mededingende individu wat weet vrede kom van binne.
Kom ons wees soos Ndwayana en eer mekaar se menswaardigheid.
- Adendorf is 'n BA-student aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video
















