Matrieks

2 slimkoppe hou Bethlehem se naam hoog

Ané van Zyl (18) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem spog met nege A's. Sy het agt onderskeidings in haar nege vakke in die skoolkurrikulum behaal en ook ’n A in alpha-wiskunde, wat sy as ekstra vak geneem het.
Ané van Zyl (18) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem spog met nege A's. Sy het agt onderskeidings in haar nege vakke in die skoolkurrikulum behaal en ook ’n A in alpha-wiskunde, wat sy as ekstra vak geneem het. (Foto: Verskaf)

Ané van Zyl (18) van die Hoërskool Voortrekker en Amy Kotzé (18) van die Hoërskool Witteberg het die dorp se naam hoog gehou deur saam 17 A’s in die eindeksamen in 2025 te behaal.

Van Zyl het agt onderskeidings behaal uit die nege vakke wat sy as deel van die skoolkurrikulum geneem het, asook ’n A in alpha-wiskunde wat sy as ekstra vak geneem het.

Sy het volgens die amptelike uitslae onderskeidings in Afrikaans, Engels, Duits, rekenaarwetenskap, rekeningkunde, wiskunde, biologie en lewensoriëntering.

Sy het ook fisiese wetenskappe op skool geneem.

“Dit was ’n bietjie rof om 10 vakke te neem. ’n Paar van ons het die jaar met 10 vakke begin, maar ek is die enigste een wat met soveel geëindig het,” vertel sy.

Sy het ook drie jaar lank vir Voortrekker se eerste hokkiespan uitgedraf.

Van Zyl het voorlopige keuring vir medies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gekry. Sy hoop dit is haar beskore.

“Dit is die plek waar ek wil wees.”

As sy nie keuring vir medies kry nie, sal sy aktuariële of chemiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom gaan studeer.

“Ek hoop met my hele hart my kar mik Bloemfontein toe.”

As sy vir medies gekeur word, sal sy graag wil spesialiseer, maar dié besluit is nog agt jaar weg.

“Ek wil graag my vlerke sprei. Ek is baie opgewonde daaroor, maar ook senuagtig oor wat voorlê.”

Haar wenresep vir haar prestasie is ’n goeie ondersteuningsnetwerk.

“Op hokkietoernooie sou ek en my vriendinne met liggies agterin die bus sit en wiskunde studeer.”

Susan Bender, wat in 2024 in Voortrekker was en dié jaar die topmatrikulant in die Vrystaat was, is ’n baie goeie vriendin van haar. Bender studeer ook nou medies aan die UV.

Van Zyl se pa, ds. Riaan van Zyl, is ’n leraar aan die NG kerk Bethlehem-Wes en ma Riëtte is ’n fisioterapeut by die Dihlabeng-staatshospitaal.

Sy het twee jonger sussies, Nienke (gr. 10) en Karli (gr. 6).

Kotzé, ’n Suid-Afrikaanse driesprongatleet van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, rekeningkunde, ekonomie, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe behaal.

Kotzé het voorlopige keuring by die NWU se Potchefstroom-kampus vir aktuariële wetenskappe gekry. Sy het ook plek in die Wag-’n-Bietjie-koshuis gekry.

Amy Kozé (18) van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het agt onderskeidings behaal. Sy het ook 'n bronsmedalje in driesprong op die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap verower.  Hier spog sy met die medalje.
Amy Kozé (18) van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het agt onderskeidings behaal. Sy het ook 'n bronsmedalje in driesprong op die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap verower. Hier spog sy met die medalje. (Foto: Verskaf)

Sy sê sy wil aanhou goed vaar in haar studies en ’n sukses maak van haar beroep.

Sy vertel sy het dwarsdeur haar hoërskoolloopbaan hard gewerk en in matriek het sy “ekstra hard gewerk”.

“ ’n Mens moet steeds ekstra werk ná sport, al is jy moeg.”

Sy het in matriek atletiek en hokkie beoefen en vir die eerste hokkiespan gespeel.

In atletiek het sy aan driesprong en die 400 m-hekkies deelgeneem. Sy het ’n bronsmedalje in driesprong verower op die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe met ’n persoonlike beste afstand van 11,61 m in die eindronde.

Amy Kotzé (18) van die Hoërskool Witteberg in Behlehem in aksie in driesprong. Sy het 'n bronsmedalje in driesprong op die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe behaal. Kotzé het agt A's in die matriekeindeksamen gekry.
Amy Kotzé (18) van die Hoërskool Witteberg in Behlehem in aksie in driesprong. Sy het 'n bronsmedalje in driesprong op die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe behaal. Kotzé het agt A's in die matriekeindeksamen gekry. (Foto: Verskaf)

In haar studiejare aan die NWU sal sy egter graag aan hokkie wil deelneem.

Kotzé sê die ondersteuning wat Witteberg se onderwysers gee, help leerlinge baie. Met sport het hulle ook baie ondersteuning gebied.

Sy ontspan deur kort onderbrekings in studietye te neem deur met haar gesin te kuier en te gaan stap.

Haar ouers – dr. Chris Kotzé en dr. Yolanda Kotzé – het saam ’n mediese praktyk op die dorp.

Haar broer, Muller (25), studeer meganiese ingenieurswese en haar suster, Christel (22), studeer aan Onderstepoort om ’n veearts-assistent te word.

CTA